Beseringsramp vir Frankryk voor Wêreldbeker

French flyhalf out of RWC23

Deur Lucky Maree

Rugbywêreldbeker: Suid-Afrikaanse rugbyliefhebbers weet alte goed hoe moeilik dit is om sonder ‘n eersterangse losskakel te sukkel.

En binne ‘n oogwink is Frankryk in dieselfde bootjie.

Dit is amper ‘n gedane saak dat hul losskakel, die briljante Romain Ntamack, geen rol in die Wêreldbeker sal speel nie.

Ná die wedstryd teen Skotland het sy kniebesering redelik gering gelyk en die afrigtingspan was nie te bekommerd nie.

“Romain het ‘n klein hiperekstensie van die knie ondergaan. Ons het verkies om hom van die veld af te haal om enige verdere skade te vermy,” het hoofafrigter Fabien Galthie gesê.

Maar Galthie was nie so gelukkig nie.

Ntamack het kruisligamente in sy linkerknie geskeur. Die gevreesde ‘ACL’ (anterior kruisligament) besering, soortgelyk aan wat Siya Kolisi vir so lank moes verduur, het sy Wêreldbeker-veldtog beëindig nog voor dit begin het.

Dit is byna onmoontlik om kruisligamente deur oefening te versterk, en dit is baie moeilik om te rehabiliteer.

Losskakel is die een posisie op die veld waar “baie goed” nie genoeg is nie. Dit moet “uitstekend” wees en niks minder nie. Dit is ‘n posisie waar die vaardighede aangeleer kan word, soos bewys deur die hardwerkende Morné Steyn, maar die rou talent, die intuïsie, moet daar wees om mee te begin.

Skrumskakel Antoine Dupont vang wel die meeste van die kollig, maar Ntamack is ‘n ster in eie reg.

Hy het begin in al vyf wedstryde in die 2022 Sesnasies wat Frankryk gewen het, en het die Grand Slam voltooi na ‘n lange 12-jaar wag.

Hy het vanjaar in al Frankryk se Sesnasies-wedstryde gespeel.

Hierdie sou sy tweede Wêreldbeker-toernooi gewees het.

Sy plaasvervanger is nog nie aangekondig nie.

Op die foto hierbo: Romain Ntamack