Deur Michael Madyira
https://twitter.com/Newzroom405/status/1689247995898777600
Banyana Banyana se teenstanders by die 2023 Fifa-wêreldbeker vir vroue het geheel en al uit professionele sokkerspelers bestaan.
Maar sommige van afrigter Desiree Ellis se spelers werk deur die dag en is slegs deeltydse sokkerspelers.
“Ons het steeds spelers wat ‘n 9-5-werk het en dan in die aand moet gaan oefen,” het Ellis gesê, ná hul Wêreldbeker-ronde van 16-uittrede aan die hand van Nederland.
Sy het hierdie stand van sake as “onaanvaarbaar” beskryf.
Vir ‘n span met verskeie semi-professionele spelers om die laaste 16 te haal was eenvoudig ongelooflik, en min mense het verwag het dat hulle dit sou bereik.
Stel jou voor as al Ellis se meisies professionele spelers was – miskien sou hulle dan ‘n ware kans staan om na die halfeindronde deur te dring, of selfs as titelaanspraakmakers gereken kon word.
“Ons kon verder gevorder het,” het die Banyana-taktikus gesê.
Dit mag maklik wees om die vrouespel reg te stel: kom ons maak van hulle voltydse sokkerspelers.
“Ek dink die korporatiewe wêreld moet nou werklik kennis neem. Anders sal ons oor vier jaar terugkom en dieselfde paadjie loop,” het Ellis gesê, en borge gesoebat om plaaslike vrouesokkerklubs finansieel te ondersteun.
Neem ook in ag dat die span se voorbereidings vir die Wêreldbeker voorafgegaan is deur ‘n onaangename gestry oor bonusse, wat Banyana se bo-verwagting vertoning nog meer indrukwekkend maak.
Om professionele klubs te hê met spelers wat ten volle op sokker fokus en goeie geld verdien, kan Suid-Afrika in een van die mees gevreesde spanne ter wêreld verander.
Voormalige Banyana-afrigter Fran Hilton-Smith het ‘n plan.
“Ek dink in Suid-Afrika sal dit prakties wees dat die vroue onder PSL-spanne val,” het Hilton-Smith gesê, volgens TimesLive.
“Dit sal dinge vir die vrouespan vergemaklik omdat hulle [PSL-klubs] reeds die velde, uitrustings, toerusting en ondersteuning het.”
Die professionalisering van die vrouespel sal ook bydra tot die uiteindelike ideaal om sportvroue dieselfde as hul manlike eweknieë te behandel.
Op die foto hierbo: Banyana Banyana-spelers
Bron: Fifa