‘Suid-Afrikaanse sportvroue baan die weg’ – Ramaphosa

SA lady athletes rock

Vrouedag: President Cyril Ramaphosa loof Suid-Afrika se vroue-atlete vir hul merkwaardige prestasies en werp lig op die kwessie van geslagsongelykheid wanneer dit by betaaldag kom.

In sy onlangse nuusbrief sê Ramaphosa dis ‘n hartseer werklikheid dat vroue-atlete steeds minder as hul manlike eweknieë verdien.

“Hierdie ongelykheid is veral ontstellend in die lig van die prestasies van sommige van die land se vrouesportspanne wat hul manlike eweknieë oortref het,” sê hy.

Ramaphosa beklemtoon die behoefte aan verandering in hierdie arena, veral aangesien vrouesportbyeenkomste steeds momentum en erkenning bou.

Hy glo deur gelyke betaling vir werk van gelyke waarde aan te bied, kan die sportbedryf as ‘n kragtige platform dien om geslagsgelykheid te bevorder.

Die president roem die merkwaardige jaar vir Suid-Afrikaanse vrouesport en beklemtoon prestasies soos Banyana Banyana se vertoning in die Fifa Vroue Wêreldbeker, en die Proteas se indrukwekkende vertoning by die Netbal Wêreldbeker.

Hy onthou ook die baanbrekende IKR-Vroue T20-krieketwêreldbeker wat op Afrika-bodem aangebied is, waar die nasionale span geskiedenis gemaak het deur die eindstryd te haal.

Ramaphosa erken dat aansienlike vordering gemaak is, maar sê daar is nog klomp werk om te doen.

“Die deelname van vroue en meisies aan sport bevorder nie net bemagtiging nie, maar bekamp ook geslagsdiskriminasie en geweld,” sê hy in die nuusbrief.

Hy onderstreep die belangrikheid daarvan om vrouesport te ondersteun deur regeringsprogramme, privaatsektor-inisiatiewe en internasionale vennootskappe, beide op elite- en voetsoolvlak.

Die president doen ‘n beroep op groter belegging in vrouesport, en dring daarop aan dat borge en sportliggame meer hulpbronne voorsien.

Hy sê verhoogde borgskap en ondersteuning sal die groei van vrouesport vergemaklik, groter gehore lok en uiteindelik meer waarde aan borge bied.

Dit sal op sy beurt, aldus Ramaphosa, Suid-Afrika se bod versterk om die Fifa-wêreldbeker vir vroue in 2027 aan te bied.

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Cyril Ramaphosa