Stil, broers, daar gaan ‘n span verby*

Siya & Kie is op pad Frankryk toe

Deur Lucky Maree

‘When the flag drops the bullshit stops.’ Hierdie gesegde is motorresiestaal wat beteken jy kan ‘n storm lospraat, maar wanneer die wedren begin word monde gesnoer. En vandag het dit waar geword vir Suid-Afrika en, sonder twyfel, vir die ganse rugbywêreld.

Rassie Erasmus en Jacques Nienaber het gelyk of hulle een of ander uitgebreide poets aan’t bak was, en dit het tot nou toe briljant gewerk, maar van vandag af word die wedstryde nie meer in die media gespeel nie.

Hulle gaan gespeel word waar hulle hoort – op die rugbyveld.

Minute voor die aankondiging van die Rugby Wêreldbekergroep het onstellende berigte uitgelek dat Handré Pollard, Lukhanyo Am en Lood de Jager nie na Frankryk sal reis nie.

Pollard sou beslis die nommer een-losskakel gewees het, maar dinge het verander en nou gaan Manie Libbok en Damian Willemse onder geweldige druk verkeer.

Op senter sal iemand Am se yslike stewels moet vul, beide as ‘n leier in die span en as generaal van die middelveld.

Die ander senters is goed, maar daar is geen ooglopende kandidaat om daardie rol oor te neem nie.

Alhoewel daar ‘n aantal hoogsbekwame slotte is, is die feit dat De Jager onbeskikbaar is ‘n sware slag.

Die silwer randjie is dat die aankondiging van spanlede by die M-Net sentrum in Randburg toegejuig is deur die gehoor, en dat die rugbykenners darem nie steen en been gekla het nie.

Dié keer het Nienaber en Erasmus geen truuks uitgehaal nie.

Die eerste reaksie is dat dit die beste moontlike groep is, insluitend speler nommer 851, kaptein Siya Kolisi, wat Suid-Afrika tydens Rugby Wêreldbeker 2023 sal lei.

Springbok-groep vir Rugby Wêreldbeker 2023:

Marco van Staden, Jasper Wiese, Andre Esterhuizen, Marvin Orie, RG Snyman, Jean Kleyn, Canan Moodie, Vincent Koch, Ox Nche, Kwagga Smith, Faf de Klerk, Cheslin Kolbe, Manie Libbok, Damien Willemse, Makazole Mapimpi, Jesse Kriel, Jaden Hendrikse, Deon Fourie, Kurt-Lee Arendse, Grant Williams, Cobus Reinach, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Pieter-Steph du Toit, Damien de Allende, Steven Kitshoff, Franco Mostert, Willie le Roux, Duane Vermeulen, Eben Etzebeth, Siya Kolisi.

* Dié opskrif is ‘n aanpassing van Jan FE Cilliers (1865-1940) se gedig ‘Generaal de Wet’ waarvan die eerste reel lui: ‘Stil, broers, daar gaan ‘n man verby.’ En ja, dit verwys ook met ‘n tikkie hartseer daarna dat middelveldgeneraal Lukhanyo Am nie saamreis Frankryk toe nie.

Op die foto hierbo: Siya Kolisi se knie mag seer wees, maar daar’s geen fout met sy leierskap nie