Deur Buziwe Nocuze
Amaqubelo Bakkery is een van honderde ondernemings in Kaapstad wat die vooruitsig van ondergang in die gesig staar, terwyl die stad se gewelddadige taxistaking voortwoed.
Die voortslepende staking is ‘n verwoestende slag vir ondernemings wat sukkel om te oorleef nadat hulle reeds aansienlike finansiële verliese gely het.
Amaqobelo Bakkery se eienaar Thembile Ngqwala het gesê hulle voel die impak eerstehands terwyl hulle worstel met die gevolge van ontwrigte vervoerdienste.
“Ek het botterbroodjies en ander gebak gereed gehad vir my kliënte, maar hulle kon my nie bereik nie aangesien motors met klippe bestook en aan die brand gesteek is, en dit was dus ook onmoontlik om bestellings af te lewer. Ek het gesit met R5,000 se onverkoopte voorraad,” het Ngqwala gesê.
“Ek het probeer om alles teen halfprys te verkoop om te verhoed dat ek dit moes weggooi. Op die ou end moes ek selfs ‘n paar goed verniet weggee.”
Ngqwala het ‘n span van 11 werknemers wat op hom reken om hul salarisse aan die einde van die maand te betaal. “Ek moet aan my personeel dink; om alles weg te gee, kos my baie,” het hy gesê.
“Ons verkoop ook by die taxi-staanplek, maar ons kon dit nie doen nie, want die taxi’s loop nie.”
Ongelukkig, net soos die geval met Amaqobelo Bakkery, kon ander besighede ook nie staatmaak op hul gewone verkope by die taxistaanplek nie. Loyiso Basso, die eienaar van KwaMgoli Kitskos en Restaurant in Khayelitsha, het sy frustrasie uitgespreek.
“Meer as 20 klante van buite ons gebied het bestellings geplaas, maar hulle kon nie by ons uitkom nie. Die stand van sake is ontnugterend, en dit lyk nie of ons hulp gaan ontvang vir die verliese wat ons ly nie. Ons is aan onsself oorgelaat,” het hy gesê.
“Ons verstaan die frustrasies van die taxi-eienaars, maar ons doen ‘n beroep op hulle om ‘n ooreenkoms te bereik sodat dinge na normaal kan terugkeer. Met die land se hoë werkloosheidsyfer reeds ‘n groot probleem, kan ons nie bekostig om werk te verloor weens probleme met vervoer nie.”
Die taxi-staking raak ook straatverkopers.
‘n Vrou wat op haar daaglikse brood op dié manier verdien en so haar gesin voed, het gesê sy is bang. “Ek haat dit om ‘n las te wees, maar as die taxistaking voortduur, sal ek geen keuse hê as om kos by my bure te bedel nie,” het sy gesê.
Terwyl Kaapstad se sakegemeenskap steeds swaarkry, is alle oë gerig op die owerhede en die stakende partye om ‘n oplossing te vind.
Op die foto hierbo: Die eienaar van Amaqobelo Bakkery moes sy voorraad teen halfprys verkoop en toe verniet weggee as gevolg van die gewelddadige taxi-staking
Bron: Verskaf