Nog mense sterf tydens Kaap se taxi-stakings

Burning and looting Cape taxi strike

Deur Buziwe Nocuze

‘n Ongenoemde man het die derde slagoffer van die groeiende onrus in Kaapstad geword, en die taxi-stakings wat verlede week begin het bou steeds momentum op.

Veiligheidspersoneel het met plunderaars gebots buite ‘n Shoprite in die township Mfuleni toe ‘n vragmotor wat alkohol aflewer voorgekeer, geplunder, en aan die brand gesteek is.

Skote is afgevuur nadat plunderaars die veiligheidswagte met klippe gegooi het. ‘n Ongenoemde man, wat nie ’n veiligheidswag was nie, is op die toneel dood verklaar, terwyl ‘n vrou in ‘n botsing beseer is.

Wes-Kaapse polisiewoordvoerder Luitenant-kolonel Malcolm Pojie het bevestig ‘n moordondersoek is geopen.

“Sake van moord, poging tot moord en openbare geweld is vir ondersoek oopgemaak nadat voorlopige verslae aandui dat lede van die gemeenskap ‘n afleweringsvragmotor geplunder het en veiligheidsmagte met klippe bestook het,” het Potjie gesê.

Hy het gesê die provinsiale ondersoekeenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad is aangewys om die omstandighede te ondersoek.

In reaksie op toenemende geweld in die gebied, moes die openbare-orde polisie ingryp om die situasie te stabiliseer.

“Die openbare-orde polisie moes skokgranate gebruik om die oproerige skare uiteen te jaag en die ondersoek duur voort,” het hy gesê.

Die voorval is maar een van vele wat plaasgevind het sedert die taxi-stakings Donderdag begin het.

Op daardie dag is ‘n man, wie se naam nie bekend gemaak is nie, doodgeskiet. Daar word gesê dat die slagoffer huis toe gery het toe sy motor deur plunderaars voorgekeer en met klippe bestook is voordat hy geskiet is.

Vrydag is ‘n beampte van die Kaapse wetstoepassingsbevorderingsplan (LEAP) in ‘n verbyry-skietery in Nyanga dood. Zanikhaya Kwinana, 32, is deur onbekende gewapende mans vermoor terwyl hulle in Millerweg gery het.

Alhoewel die motief vir die skietery onbekend is, het die polisie nie uitgesluit dat dit verband mag hou met die voortslepende staking nie.

Spanning het laas week ‘n breekbunt bereik toe verskeie taxi’s deur wetstoepassers geskut is, wat tot gewelddadige botsings met taxibestuurders gelei het.

Sedertdien is verskeie busse, vragmotors en private motors deur oproeriges met klippe bestook en afgebrand.

Op die foto hierbo: ‘n Brandende bus

Bron: Buziwe Nocuze