EFF-retoriek was verlede Saterdag in volle swang – maar dis niks nuuts nie.
Die swart meerderheid Suid-Afrikaners wat die miljardêr Elon Musk as anargisties uitkryt, verwerp die EFF elke week in tussenverkiesings.
Onthou net: die EFF is ‘n 12%-party na 10 jaar se bestaan. En met net twee miljoen volgelinge uit ‘n kieserslys van meer as 25 miljoen mense, is die party nie ‘n ysklike treffer onder die swart gemeenskap nie.
Malema en sy volgelinge sing heeltyd hierdie opruiende struggle-era liedjies in swart gemeenskappe.
Hy het trouens verlede week sy sjarme-offensief laat losbrand in Marikana, ‘n myndorp wat steeds sukkel om te herstel van ‘n massamoord op 34 mynwerkers deur staatspolisie.
Daar het hy gesing “Kiss the boer…” – ‘n sagter weergawe van sy kenmerkende deuntjie “Kill the boer, kill the farmer”.
Die skakel-foefie wat hy Saterdag by die FNB-stadion uitgehaal het, het die nasie geskok omdat dit in ‘n stadion met meer as 100,000 ondersteuners gesing is. Maar dit is geen weerspieëling van hoe die swart meerderheid oor wit mense in Suid-Afrika voel nie.
Wit mense en wit politieke partye wat beweer dat hierdie truuk ‘n opdrag is om wapens op te neem, is doelbewus oneerlik en net so onverantwoordelik soos Malema.
Malema se oproep vir nasionalisering van die banke, myne, produksiemiddele en die oorneem van kommersiële plase word nie deur swart gemeenskappe en swart kiesers ondersteun nie.
Die party bestuur nie ‘n enkele dorp in Suid-Afrika nie en kon nie daarin slaag om ‘n meerderheidstem in enige van die 257 munisipaliteite in ons land te wen nie.
In baie provinsies, insluitend KwaZulu-Natal – ‘n grootliks landelike provinsie wat die tuiste van 15 miljoen Zoeloes is – het die EFF nog nooit ‘n enkele tussenverkiesing gewen nie.
Dit speel reg in Malema se hand in om blankes as die hoofvyande van swart armes in Suid-Afrika uit te beeld.
Op dieselfde manier dien dit die belang van wit partye om die storie te versprei dat bevoorregte blankes in vrees moet leef vir ‘n “opstand van die gepeupel” waartydens die swart meerderheid hulle eendag sal afmoor by die miljuisende.
Dit is nonsens en sal nooit gebeur nie. Maar met ‘n verkiesing wat minder as ‘n jaar weg is, is dis nou die tyd vir politieke toertjies in die naam van openbare betrekkinge. En elke mediafundi sal vir jou sê, enige publisiteit is goeie publisiteit.
Die Vegters het ‘n hele week van publisiteit agter die rug met media wat hul boodskap aan nuwe ondersteuners oordra. Dis slegte publisiteit, maar dis regtig goeie publisiteit vir Malema en eendersdenkendes.