Deur Buziwe Nocuze
In die nasleep van ‘n taxistaking wat Donderdagmiddag begin het, is drie Golden Arrow busse by Nyanga en Philippi aan die brand gesteek, wat Kaapstad in ‘n warboel gedompel het.
Die staking was die gevolg van ‘n vergadering wat by Desmond Tutu Sportsentrum gehou is, waar die voorsitter van Primary Associations – ‘n groep wat telke taxi-verenigings in die provinsie verteenwoordig – besluit het om onmiddellik van die taxi-staanplek te onttrek.
Mandla Hermanus, die provinsiale voorsitter van Santaco Wes-Kaap, het die erns van hul wegbly-aksie beklemtoon: “Miskien word ons nie ernstig opgeneem nie omdat ons net staak of wegbly vir ‘n dag.
“Ons moet aanhou staak en sekermaak dat die regering ons pyn voel, daarom het ons besluit om van vandag af tot volgende week toe weg te bly.”
Die Stad Kaapstad se bedrywighede in die sentrale besigheidsgebied op Dinsdag was die oorsaak van dié massastaking; taxi’s is deur die owerhede geskut en hul bestuurders is glo aangerand.
Woensdag is ‘n taxibestuurder na bewering deur ’n beampte in die been geskiet, en in plaas daarvan om onmiddellik mediese behandeling te ontvang, is hy na die polisieselle geneem.
Hermanus het sy ontsteltenis uitgespreek: “Almal het gesien wat die amptenare doen. Hulle het nie net ons bestuurders aangerand nie, maar ook die voertuig beskadig om te wys dat hulle ons nie respekteer nie.
“Geen verteenwoordigers van die regering het die gedrag veroordeel van die amptenare wat ons bestuurders aangeval het nie.”
Die voorsitter het aangevoer dat hulle onregverdig geteiken is, met meer as 6,000 van hul voertuie wat geskut is, terwyl hulle buitensporige boetes van meer as R7,000 moes betaal om hul voertuie terug te kry uit die skut.
“Ons is afhanklik van die geld wat ons verdien deur mense te vervoer, maar ons kan dit nie doen as ons taxi’s geskut word nie,” het Hermanus gesê.
Hoewel die minister van polisie, Bheki Cele, ‘n inligtingsessie met taxilede bygewoon het, het hy nie aan die vergadering deelgeneem nie en is kort daarna vort.
Die situasie het gou ‘n gewelddadig toon aangeneem, toe wetstoepassers en Golden Arrow busse die teiken van stakende taxibestuurders se woede geword het.
Boonop is maatskappyvoertuie met klippe aangeval, en ‘n derde bus is op Lansdowneweg in Philippi afgebrand.
In Langa het inwoners ‘n vragmotor wat drankies aflewer geplunder.
Op die foto hierbo: Santaco-lede in Wes-Kaap neem standpunt in tydens die stakingbesluitnemingsproses en eis ‘n einde aan diskriminerende wetgewing en die mishandeling van taxibestuurders
Bron: Buziwe Nocuze