Ewige rus in ‘n Barbie-kis

ewige rus in n barbie kis

Begrafnisondernemings regoor Latyns-Amerika verskaf nou pienk Barbie-doodskiste aan vir geharde Barbie-aanhangers wat hul liefde vir die ikoniese pop wil graf toe vat.

Geïnspireer deur Greta Gerwig se Barbie-fliek, het die kulturele en modetendens van ‘Barbiecore’ nou die wêreld op hol. Dit het gelei tot ‘n tekort aan pienk verf, en nou ‘n doodskisgier op Barbie gebaseer.

Die helderpienk kissies simboliseer die vonk en energie van onvergeetlike oomblikke, volgens ‘n promosie-veldtog gemik op hierdie springlewendige doodskis-entoesiaste.

Begrafnishuise in Mexikostad, El Salvador en regoor Latyns-Amerika slaan nou munt uit die makabere neiging en gee Barbie-aanhangers die kans om vir ewig te rus in ‘n pienk paradys.

Olivares Funeral Home bevorder hul ‘Barbie House’ kis, en bied ‘n finale lêplek “sodat jy kan rus soos Barbie”.

Maar hulle was nie voor in die koor nie! Alpha en Omega Funeral Home in Ahuachapán, El Salvador, het reeds sowat ‘n jaar gelede ‘n pienk kis bekendgestel, en dis in yslike aanvraag.

Een entoesias het opgewonde erken: “Ek wil een hê wanneer ek sterf,” terwyl ‘n ander uitbasuin het: “Ewige rus lyk nou soveel beter.” En ons kan nie hierdie slim kwinkslag vergeet nie: “Dood in plasties, dis fantasties!”

Saamgestel deur personeelskrywer

Op die foto hierbo: Die Barbie-kiste

Bron: Twitter