Deur Zukile Majova
Julius Malema, die leier van die EFF, het geweier om verskoning te vra of enige verantwoordelikheid te aanvaar vir die sing van opruiende slagspreuke.
Verskeie organisasies het gevind dat Malema se voorsang van ‘Kill the Boer, kill the farmer’ slagspreuk gelykstaande is aan haatspraak.
Hulle staan tou om Malema en sy party aan te kla vir “aanhitsing van geweld” teen wit minderheidsgroepe en vir die verdeling van die nasie.
Dr Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, het gesê sy party het begin met ‘n regsgeding wat hy beoog om te beveg tot by die Konstitusionele Hof.
“Die tyd het aangebreek dat daar teen EFF-leier Julius Malema opgetree word oor sy opruiende uitsprake en die VF Plus het ‘n klag hieroor by die polisie en die Menseregtekommissie hernu,” het Groenewald gesê.
Die eerste bewys van die verdelende aard van Malema se slagspreuk was Woensdag ten volle voor die EFF-hoofkwartier in Johannesburg te sien.
‘n Stryery het ontstaan tussen EFF-lede, insluitend sekretaris Marshall Dlamini, en ’n groep wit mans wat deel wou wees van Malema se perskonferensie.
Maar Malema het arrogant gebly en gesê die EFF-veiligheidswagte moes meer aggressief gewees het met die indringers.
“Hulle het nie goeie werk gedoen nie, ek wou meer as dit hê. Jy ken my, ek hou myself net besig met die ware Jakob. Ek wil nie amper-amper hê nie. Nee, ek soek behoorlike reëlings. Maar volgende keer,” het Malema gesê.
Malema het gesê die gelykheidshof het in sy guns bevind toe daar beslis is daar is geen verband tussen die sing van struggle-liedjies en etniese geweld teen blankes nie.
“Ek sal hierdie liedjie sing soos en wanneer ek lus is. Dit is nie my liedjie nie, dit is ‘n struggle-liedjie,” het hy gesê.
Die Hoogste Hof van Appèl sal op 4 September ‘n appèl aanhoor wat deur AfriForum teen die Gelykheidshof se bevinding gebring is.
Op die foto hierbo: Malema hou vol hy sal steeds sy berugte kenmerkdeuntjie sing
Bron: @EFFSouthAfrica