Deur Phillip van Niekerk
Anti-aborsie aktiviste dreig om ‘n stokkie te streek voor ‘n Amerikaanse befondsde vigsprogram wat reeds miljoene Afrika-lewens gered het – en steeds red.
Die program, bekend as die President se Noodprogram vir Vigsverligting (Pepfar), befonds tot 15% van Suid-Afrika se gesondheidsbegroting.
Daarsonder mag die land se bestuur van aansteeklike siektes in duie stort.
Die program se jaarlikse begroting van R125 miljard moet teen die einde van September weer deur die Amerikaanse Kongres goedgekeur word.
Maar dit is nou in die weegskaal, want regse Christelike groepe dring daarop aan dat dit ‘n verbod op aborsies insluit.
Francois Venter, hoof van Ezintsha by Wits Universiteit – ‘n navorsings- en openbare beleidseenheid – het die verlies van Pepfar as “ondenkbaar” beskryf.
“Pepfar het tienmiljoene lewens gered en hou steeds mense aan die lewe,” het hy gesê.
“As befondsing gestaak word, sal antiretrovirale terapie opdroog in baie lande wat dit eenvoudig nie kan bekostig nie, en hierdie mense sal Vigs kry en sterf.”
Bulelani Kuwane, uitvoerende hoof van Youth Health Africa, het gesê die onttrekking van Pepfar sal ‘n massiewe impak hê, en die afgelope 20 jaar se vooruitgang in die stryd teen MIV/Vigs in Suid-Afrika, omkeer.
Hy het gesê Pepfar ondersteun 27 van die 52 gesondheidsdistrikte in SA – wat 80% van gevalle hanteer.
Die program verskaf antiretrovirale middels aan sowat vier miljoen Suid-Afrikaners.
Pepfar voorsien ook personeel en bykomende hulpbronne aan klinieke, wat die las verlig op ‘n stelsel wat reeds onder groot druk is.
Die onttrekking van Pepfar sal die verlies van duisende werksgeleenthede in Suid-Afrika veroorsaak, en die gevolge kan selfs meer verwoestend wees in lande soos Botswana, Eswatini, Lesotho, Malawi, Zambië en Zimbabwe.
Pepfar het netwerke van klinieke geskep wat verskeie dienste lewer, insluitend Covid-19-toetsing en entstowwe.
Beide Demokrate en sommige konserwatiewe Republikeine is ten gunste daarvan om Pepfar sonder enige veranderinge te hernu, net soos dit die afgelope 20 jaar gedoen is.
Maar regse wetgewers onder druk van anti-aborsiegroepe het genoeg stemme om dit te keer.
Die Ierse rockster en aktivis Bono het hierdie impasse as “waansin” beskryf.
Selfs al word ‘n ooreenkoms nou bereik, raak tyd min om die sperdatum te haal.
Amerikaanse wetgewers is tot middel September met verlof en het dan ‘n groot werklas wanneer hulle terugkeer.
Een konserwatiewe Republikein het opgemerk dat dit skokkend is dat organisasies wat hulself pro-lewe noem, bereid is om mense se lewens op die spel te sit vir politieke bedinging.
Op die foto hierbo: Kinders mag die hardste getref word van slagoffers regoor Afrika as Pepfar befondsing gestaak sou word
Bron: Save the Children