Deur Dezzi Lennox
Die ikoniese James Anderson sê hy is nog lank nie gereed om toetskrieket vaarwel toe te roep nie – maar dalk is toetskrieket gereed om te sê, “Bye-bye Jimmy, en dankie vir alles.”
Anderson, die suksesvolste snelbouler in die geskiedenis van die vyfdagspel, se eens gevreesde boulwerk se fut is uit. Hy kon nie ’n enkele paaltjie in Australië se tweede beurt plattrek nie.
Sy voormalige kaptein, Michael Vaughan, het dit as “innocuous military medium” beskryf, en gesê sy insluiting in die span het Engeland die toetsreeks gekos.
“Anderson was ’n emosionele keuse, en as enigeen al ooit verdien het om dié eerbetoon te beurt te val, is dit hy,” aldus Vaughan. “Laat ek beken: As ek die span moes kies, sou Jimmy gespeel het. En ons weet hoe dit sou eindig.”
Mens kan verstaan hoekom Anderson traag is om sy stewels op te hang. Hy staan op 690 toetspaaltjies. Wie kan hom verkwalik dat hy die 700 kerf wil oorsteek?
Maar die pasafgelope reeks om Die As was ’n gulde kans om dit te bereik. Sy vyf paaltjies in drie toetse, teen 85-stuk, is die swakste syfers in sy twee dekades in internasionale krieket. Moet ons verras wees? Hy het Sondag verjaar. Hy is 41.
Vergelyk dit nou met die einde wat sy jarelange bondgenoot, Stuart Broad, vir homself geskryf het, toe hy in die middel van die laaste wentoets laat weet het sy tyd is om: Hy het 22 paaltjies in die reeks geneem, die laaste bal wat hy as kolwer ontvang het vir ses geslaan, en Austalië se laaste paaltjie geneem om die toets te beklink en die reeks te beëindig.
Jimmy behoort teen die tyd te geweet het: tydsberekening is alles.
In die foto hierbo: James Anderson en Stuart Broad
Fotobron: Twitter