Genugtig, onse Barbie was grof!

Barbie was eers Lili

Barbie is alles wat skoon en rein is … maar dit was nie altyd so nie. Glo dit of nie, in ’n vorige loopbaan was sy ’n Duitse meisie van die nag.

Barbie is in 1959 aan die wêreld voorgestel by die New York Speelgoedfees, en was ’n kitstreffer by ouers wat salig onbewus was van Barbie se wilde verlede.

Die verhaal het 10 jaar tevore begin, in ’n comic in Bild, ’n Hamburgse koerant. Lilli, Barbie se voorsaat, was skerpsinnig, verloklik en slinks, en het mans, veral ryk mans, om haar pinkie gedraai, verlei, en hulle dik beursies dunner gemaak.

Die Lilli-karakter was so gewild dat die koerant besluit het om ’n drie-dimensionele weergawe te skep, wat beslis nie vir kinders bedoel was nie. 

Eerder was sy ’n lawwe, stoute geskenk vir volwassenes, ’n tipe gelukbringer, wat veral gewild was onder sakelui – presies die soort mans wat voor Lilli se kurwes geswig het in die comic.

Sy het in kroeë opgeduik, van karre se tru-spieëltjies af gehang, en is selfs in die kajuite van vliegtuie bespeur.

Dis waar Ruth Handler, een van die stigterslede van die Amerikaanse speelgoedmaatskappy, Mattell, in die prentjie kom.

Sy het Lilli in ’n speelgoedwinkel gesien, gekoop en huis toe geneem, met die idee om dit moontlik vir ’n Amerikaanse mark aan te pas – steeds op volwassenes gemik.

Haar dogter en dié se maatjies was tot haar verbasing versot op Lilli. Handler het gesien sy het ’n goudmyn ontdek. Lily se bloes in toegeknoop, sy is na Barbie herdoop, en een van die grootste suksesverhale in die speelgoedgeskiedenis se eerste hoofstuk is geskryf.

Die goeie nuus is dat Barbie ná die sukses van haar eie fliek meer welaf is as ooit. Sy sal nooit na haar ou weë hoef terug te keer nie.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Barbie, toe sy nog Lily was

Fotobron: Instagram