Wes-Afrika stel ultimatum aan Niger se weermag

Ecowas HQ

Deur Chiamaka Okafor

Die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikaanse State (Ecowas) het diegene verantwoordelik vir die staatsgreep in Niger een week gegee om mag aan die land se demokraties verkose regering terug te gee – of die risiko van geweld te loop.

“… indien die owerhede se eise nie binne een week nagekom word nie, sal [hulle] alle nodige maatreëls tref om die grondwetlike orde in die Republiek van Niger te herstel; sulke maatreëls mag die gebruik van geweld insluit,” het dit in ‘n verklaring gesê.

Hierdie boodskap is voorgelees deur die voorsitter van die Ecowas-kommissie, Omar Touray, tydens ‘n buitengewone beraad wat in Abuja byeengeroep is in reaksie op Woensdag se staatsgreep in Niger.

Alle Ecowas-hoofde van verdediging moet dus onmiddellik vergader. Die verdedigingshoofde moet toesien dat die skuldiges verantwoordelik gehou word vir geweld en terreur teen die lewens en eiendom van onskuldige burgers en inwoners van Niger.

Touray het gesê die groep het gesamentlik verskeie resolusies bereik, insluitend dat President Mohammed Bazoum die wettige verkose president en staatshoof van die Republiek van Niger bly soos erken deur Ecowas, die Afrika-unie en die internasionale gemeenskap.

Ecowas het Woensdag die poging tot omverwerping van grondwetlike orde in Niger en die onwettige aanhouding van Bazoum, lede van sy familie en regeringsamptenare veroordeel, en het geëis dat die president onmiddellik vrygelaat en heraangestel word.

Dit het die onwettige aanhouding van die president as “gyselaarsituasie” beskryf, en het gesê dat dit geen beweerde bedanking van Bazoum sal aanvaar nie. Die norm van staatsgrepe is dat staatshoofde dikwels gedwing word om te bedank.

‘n Spesiale verteenwoordiger sal aangestel en na Niger gestuur word om Ecowas se eise aan die rebellerende magte oor te dra.

Die groep het ook buitelandse regerings en private militêre kontrakteurs wat die staatsgreep ondersteun veroordeel, hoewel dit geen name genoem het nie.

Ecowas het onmiddellike sanksies teen Niger opgelê terwyl hulle wag dat die ultimatum binne een week verstryk.

Dit het die onmiddellike sluiting van lug- en landgrense tussen Ecowas-lidlande en Niger verklaar en die instelling van ‘n geen-vliegsone tussen hierdie state en Niger.

Alle kommersiële en finansiële transaksies tussen lidlande en Niger is opgeskort; lopende transaksies met Niger, insluitend energie, is gevries.

Bates van Niger in Ecowas sentrale banke sal ook gevries word, sowel as bates van alle ander openbare ondernemings en instellings in Niger.

Boonop is ‘n reisverbod opgelê op alle soldate wat by die staatsgreep betrokke was en hul rekeninge is gevries. Hul familielede en burgerlikes wat instem om deel te neem aan enige instellings of ‘n regering wat deur die staatsgreepplanners gestig is, se rekeninge sal ook gevries word.

Op die foto hierbo: Die Ecowas-hoofkantoor

Bron: Premium Times