Verwoestende Oos-Kaapse winde eis twee lewens

wind damage ECape

Deur Anita Dangazele

Winde wat snelhede van tot 120 km/h bereik het, het Saterdagaand die Oos-Kaap geteister.

Die winde in Oos-Londen het dakke van huise afgeruk, kragdrade beskadig en bome ontwortel, wat tot die dood van twee mense gelei het.

Nkululeko Dem, 28, het sy lewe verloor in die verwoestende wind nadat ‘n boom Sondag in die vroeë oggendure op sy hut geval het.

Dem het ten tyde van die voorval in dieselfde kamer as sy vriend geslaap. Die vriend, wie se naam in hierdie stadium onbekend is, het albei bene gebreek en is in Oos-Londen se Frere Hospitaal opgeneem.

Woordvoerder van die Buffalo City Metro, Samkelo Ngwenya,  het die dood van nog ‘n slagoffer, wie se naam nog nie voorsien is nie, bevestig.

“’n Persoon is by Wyk 22 in Potsdam dood verklaar nadat ‘n muur en ‘n dak ineengestort het terwyl sy geslaap het,” het Ngwenya gesê.

Sowat 30 gesinne moes uit informele nedersettings rondom Mdantsane in Oos-Londen ontruim word.

Oos-Kaapse LUR Zolile Williams het 200 tydelike strukture vir die geraakte gesinne in Mdantsane belowe.

Intussen moes inwoners van Kuyga in Nelson Mandelabaai deur kniediep water sukkel om die van hul besittings wat nie vergaan het nie te red, nadat kitsvloede die stad geruk het.

Kuyga-inwoner Jason Plaatjies het gesê hy is gedwing om in ‘n koue en nat shack te slaap, aangesien water by sy huis ingestroom het.

“Daar is water onder ons bed en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie, want die water loop in ons huis in. Ons het geen ander keuse as om te wag dat dit droog word nie,” het hy gesê.

Plaatjies het gesê hulle vrees dat die onhigiëniese toestande hulle siek sal maak.

“Ons het puttoilette hier. Stel jou voor wat gebeur wanneer die water met menslike afval meng. Ons gaan cholera kry,” het hy gesê.

Die verwoestende naweekweer het ook sowat nege gesondheidsorgfasiliteite vernietig waar dakke van klinieke en hospitale afgewaai is, wat veroorsaak het dat sommige pasiënte na ander fasiliteite verskuif moes word.

Nomakhosazana Meth, LUR vir Gesondheid in die Oos-Kaap, het gesê hulle kan nog nie bepaal hoeveel skade aangerig is nie.

“Maar gebeurlikheidsplanne is in plek by die geaffekteerde fasiliteite,” het sy gesê.

Op die foto hierbo: Die ineengestorte dak van ‘n huis in Oos-Londen, Oos-Kaap.

Bron: Verskaf