Swede maak pad oop vir Banyana

Banyana Afrikaans

Deur Dezzi Lennox

Swede se verpletterende sege met 5-0 teen Italië beteken Banyana Banyana se pad na die uitspeelrondes van die Sokker-Wêreldbeker vir vroue is eenvouding – maar nie maklik nie.

As hulle Italië Woensdag klop, dring hulle deur, tensy Argentinië verras deur Swede, verreweg die sterkste span in Groep G, te klop.

Mens sou reken Banyana se kanse is veel beter as Argentinië s’n, omdat die teenstand swakker is, maar dié toernooi is klaar so vol verrassings dat dit dwaas sou wees om voorspellings te waag.

Swede, op ses punte, is klaar deur, ongeag wat in die ander wedstryde gebeur. Italië hoef net gelykop te speel teen Suid-Afrika om deur te dring, en dit is waar Banyana se grootste struikelblok lê.

Maar ’n span wat op verdediging ingestel is, is nie noodwendig ondeurdringbaar nie. Negatiewe sokker kan soms teen ’n span tel, omdat dit hulle voorspelbaar maak, en hulle teenstanders die ruimte gee om voluit op aanval te fokus.

As Banyana en Argentinië albei wen en met dieselfde doelverskil opeindig, sal hulle deur strafpunte – geel- en rooikaarte – geskei word. As hulle daar ook gelyk trek, sal daar geloot word om te beslis wie dring deur.

In die foto hierbo: Refiloe Jane

Fotobron: Goal