Sunshine Girls te goed vir Proteas 

Netball WC SA v Jamaica

Deur Michael Madyira

Jamaika se Sunshine Girls was Sondag eenvoudig te sterk vir die Proteas in die eerste groepfase van die Netbal-Wêreldbeker in Kaapstad se Konvensie-sentrum en het met 67-49 gewen.

Suid-Afrika het in die derde kwart van die wedstryd uitgesak, nadat die spanne vroeër goed teen mekaar opgeweeg het.

Die Proteas kry ’n kans om te vergoed in die tweede groepfase.

Jamaika het Suid-Afrika veral op die verdediging getroef. Hulle spoed en akkuraatheid was in ’n ander klas.

Die doelskieter Jhaniele Fowler het vroeg in die wedstryd vir Jamaika uitgeblink.

Nicole Taljaard het oemf aan die Proteas verleen nadat sy as plaasvervanger op die baan gekom het, maar die span het nie genoeg kanse vir die doelskieter Lenize Potgieter geskep nie. Sy was skitterend op dreef, en het met 15 uit 15 skote geslaag.

In die derde kwart het Jamaika met die wedstryd weggehol, en hulle voorsprong na 23 punte opgeskuif.

Die vierde kwart was Suid-Afrika se beste, maar dit was te min te laat.

In die foto hierbo: Jamaika teen Suid-Afrika 

Fotobron: Netbal SA