Dis hoogtyd dat die EFF nou grootword

EFF's Juju and Floyd

Deur Zukile Majova

Die Ekonomiese Vryheidsvegters is seker die suksesvolste van ‘n klomp splinterpartye wat die afgelope jare van die ANC weggebreek het.

Op ‘n hoogs kompeterende politieke verhoog kon die EFF sowat twee miljoen kiesers in beide die munisipale verkiesings (2021) en die nasionale algemene verkiesings (2019) lok.

Die party is nou die derde grootste in SA met minstens 40 parlementslede.

Sy ope huwelik met die ANC het die EFF in staat gestel om ‘n proetjie te kry van mag in die Ekurhuleni-metro.

Die party sal na verwagting ‘n magsmakelaar in provinsies soos Gauteng en KwaZulu-Natal wees ná volgende jaar se nasionale en provinsiale verkiesing.

Swaai stemhouers word al hoe belangriker, aangesien Suid-Afrika reeds ‘n oorgang ervaar wat deur kiesers gedryf word.

In die jongste verkiesings het geen enkele party ‘n duidelike meerderheid in minstens 60 munisipaliteite gekry nie – die mees duidelike aanduiding dat kiesers nou in massas hul rue op die ANC draai.

‘n 10% Party wat deurdrenk is van demokratiese waardes, verbind is tot die Grondwet en die bevordering van menseregte, nie-rassigheid en goeie regering sal die mees ideale magsmakelaar wees.

Maar is dit Julius Malema se EFF?

Die party het die afgelope maande president Cyril Ramaphosa se staatsrede ontwrig.

Dié voorval het die nasie in die verleentheid gestel voor hooggeplaastes van regoor die wêreld.

Toe het hulle probeer om die ekonomie en die bewegingsvryheid van miljoene Suid-Afrikaners in hul sogenaamde nasionale stilstand te saboteer.

Hierdie vertoon van anargie het klaaglik misluk, danksy ingryping van staatsveiligheidsagentskappe en die weermag.

Die polisie het die sogenaamde rewolusie ingekort deur meer as 600,000 ou bande in te samel wat gebrand sou word om die strate en die padnetwerk te versper.

Dit is nie hoe ‘n party met 40 parlementsetels en verteenwoordiging in provinsiale wetgewers en munisipaliteite sy stem dik maak nie.

Teen 10 jaar oud moet die “Vegters” nou grootword en ontwikkel tot ‘n party wat werklik die hoop en hunkeringe van miljoene Suid-Afrikaners kan dra.

Tot dan sal die res van die nasie voortgaan om die EFF met agterdog te bejeen, en sal waarskynlik nie Saterdag die dansvloer slaan by sy jamboree by FNB Stadion nie.

Op die foto hierbo: Juju en vleuel Floyd

Fotobron: @EFFSouthAfrica