Deur Dezzi Lennox
Banyana Banyana het tot op die randjie van ’n skoksege teen Argentinië gekom, maar moes sien hoe hulle 2-0 voorsprong op die laaste nippertjie binne vyf minute uitgewis word. Die eindtelling was 2-2.
Banyana het dwarsdeur die wedstryd die aanskoulikste en aanvallendste sokker gespeel, en kon in ’n stadium 4-0 voor gewees het met ’n klein bietjie geluk aan hulle kant.
Hulle het hulle manlike eweknieë, Bafana Bafana, gewys wat vindingrykheid en waagmoed beteken. Hulle het nie ’n treetjie vir hulle veel meer gerekende opponente teruggestaan nie. Inteendeel.
Die Argentyne het nie geweet wat hulle tref nie, en het eers na ’n uur wakker geskrik nadat Linda Motlhalo Suid-Afrika se eerste doel aangeteken het – en in hulle oorgretigheid ’n gaping vir Thembi Kgatlana geskep om Banyana se tweede doel aan te teken.
Sophia Braun en Romina Nunez het Argentinië se doele aangeteken.
Die punt wat Banyana verwerf het – hulle eerste by die Wêreldbeker – hou hulle hoop lewendig om na die uitspeelrondes deur te dring, maar dit hang aan ’n dun draadjie. Hulle moet onder meer Italië klop en hoop Swede verloor teen Argentinië.
Wanneer doelverskille in berekening kom, lyk hulle kanse bitter skraal.
In ’n skokuitslag het Nigerië vir Australië met 3-2 in Brisbane geklop voor ’n skare van 49,156 driftige Aussie-ondersteuners
Australië bied die toernooi saam met Nieu-Seeland aan.
Die spanne was rustyd met 1-1 gelyk, nadat albei doele in bykomende tyd aangeteken is.
Australië het die eerste helfte oorheers, maar Nigerië se verdediging was rotsvas… totdat die Matildas toegeslaan het met ‘n laat verrassingsaanval.
Net voor die rustydfluitjie het Uchenna Kanu die gelykmaker aangeteken.
Ohale het Nigerië in die 65ste minuut met ’n kopskoot laat voorloop, nadat die Aussie-doelwagter die bal in haar pad geklap het.
Asisat Oshoala, wat ná rustyd as plaasvervanger op die veld gekom het, het munt geslaan uit ’n glips tussen die Australiese doelwagter en ’n verdediger om die telling 3-1 te maak.
Daarna het Australië gesukkel om aanvalskanse te skep.
Alanna Kennedy het na tien minute in bykomende tyd ’n troosdoel vir die tuisspan aangeteken.
Nigerië is nou bo aan die puntelys in Groep B. Hulle laaste groepwedstryd is teen Ierland.
In die foto hierbo: Banyana se Linda Motlalo, ook bekend as die ‘Randfontein Ronaldinho’
Fotobron: Twitter