‘Stuur my lewenslank tronk toe!’

jail for life

Deur Anita Dangazele

Die jongste lid van die Mancoba Seven Angels Ministries is tot 241 tronkstraf gevonnis nadat hy vir die swaarste moontlike straf gevra het vir ’n reeks gruweldade wat lede van dié kerk uitgevoer het.

Siphosihle Tatsi, 23, is in 2018 in hegtenis geneem saam met vyf ander vir die moord op vyf polisielede van Ngcobo-polisiestasie. ’n Klopjag op Seven Angels Ministries het dié kultusgroep se skokkende bedrywighede oopgevlek.

Die kerk was nie oop vir buitestanders nie. Onderwys en werk buite die kerk is as duiwelswerk beskou. Om aan te sluit, moes lede al hulle besittings soos geld, karre en huise aan die kerk oorgee.

Tatsi en sy mede-beskuldigdes het aanvanklik regshulp geweier, en gesê dis teen hulle geloof.

“God is ons prokureur,” het hulle gesê.

Tatsi het eers gesê die misdaad was ’n opdrag van God om ’n profesie te vervul. Hy het later skuldig gepleit, en gesê hy wil so ver van die kerk wegkom as moontlik.

“Hoe langer ek in die tronk bly, hoe beter. Ek wil tyd hê om myself te onderrig, te bemagtig en te bevry en my eie keuses te maak, sonder om deur die kerk gebreinspoel te word,” het hy aan die hof gesê.

Tatsi is in die kerk gebore. Sy ma het aangesluit toe sy 18 was, en nooit weggegaan nie.

Regter Fathima Dawood het hom tot 18 jaar vir elk van die vyf moorde gevonnis, 12 vir elk van die twee pogings tot moord, 18 vir sameswering, en 10 vir elk van sewe rooftogte.

Nog 29 jaar is bygelas op drie aanklagte vir die besit van vuurwapens  en ammunisie, en tien op aanklag van huisbraak.

Die vonnisse sal tegelykertyd uitgedien word, wat beteken hy sal net 18 jaar lank sit.

In die foto hierbo: Die polisieklopjag op die Seven Angels Ministries in die Khanyilanga nedersetting in Ngcobo

Fotobron: Twitter