Afrika se hoop op Nigerië en Banyana

African hope for WC

Deur Michael Madyira

Nog nie een span uit Afrika kon ’n wedstryd by die 2023 Sokker-Wêreldbeker vir vroue in Australië en Nieu-Seeland wen nie. Suid-Afrika en Nigerië staan die beste kans om dié saak reg te stel.

Banyana het 1-0 teen Swede voorgeloop, maar hulle kanse verspeel en 2-1 verloor.

Nigerië het 0-0 teen Kanada gelykop gespeel, en die nuwelinge, Marokko, is 6-0 deur Duitsland verneder.

Zambië het 10 doele in net twee wedstryde afgestaan. Japan en Spanje het hulle albei met 5-0 geklop.

Nigerië speel Donderdag teen Australië in Brisbane. Die span se afrigter, Randy Waldrum, het beloof hulle gaan die wêreld vir die tuisspan warm maak.

“Ons het gehalte in die span, ons het spelers wat doele kan aanteken. Ons moet klinies wees wanneer ons kanse skep.”

Banyana speel Vrydag teen Argentinië, wat verwond is toe Italië hulle in hulle eerste wedstryd met 1-0 geklop het.

Banyana se kaptein, Refiloe Jane, glo die span kan vir die nederlaag teen Swede vergoed. “Ons het hoop. Ons gaan ons beste lewer,” het sy gesê.

In die foto hierbo: Banyana Banyana berei voor vir die wedstryd teen Argentinië

Fotobron: Banyana Banyana