Deur Razeen Gutta
Maandag se lieflike weer op Old Trafford in Manchester, na twee dae se reën, is nie so gul ontvang as wat mens geneig sou wees om te verwag nie.
Swaar reënbuie Saterdag en Sondag het die vierde toets in die reeks om Die As onbeslis laat eindig, en Engeland die wenkans ontneem waarop die wedstryd afgestuur het.
Die goeie weer het die ou vraag weer bo die oppervlak laat prut: Waarom was daar nie ’n reserwedag nie?
Wel, een rede is dat daar nie plek daarvoor op die skedule is nie.
Al sê baie Engelse en Australiese spelers toetskrieket is vir hulle die belangrikste formaat, moet daar plek gemaak word vir die plaaslike witbalreekse met beperkte boulbeurte.
Daar was wel ’n reserwedag ingebou vir die eindstryd van die Wêreld-Toetskampioenskap tussen Australië en Indië – ’n verstaanbare uitsondering.
Mens sou dink na al die dekades se onbesliste uitslae sou iemand al ’n oplossing bedink het, soos ’n dak, of meer krieket wanneer die son skyn, om by weervoorspellings in te pas.
Die vyfde toets sou ’n naelbytstryd kon wees as Engeland die vierde een gewen het; dit sou beteken het hulle kon die eerste span in amper ’n eeu word wat ’n reeks om Die As wen nadat julle 2-0 agter was. Nou is Australië verseker daarvan dat hulle die kraffie terugneem huis toe.
Wel, Engeland het darem nog die kans om te bewys hulle is ten minste die Aussies se gelyke.
Die vyfde toets begin Donderdag 27 Julie op The Oval.
In die foto hierbo: Old Trafford
Fotobron: @chefkat23