Deur Buziwe Nocuze
Mncedisi Xhayimpi, ‘n 38-jarige man van Worcester in die Wes-Kaap, is in sy noppies nadat hy ‘n rolstoel van dominee Sibusiso Feni van die Isidiliya Apostoliese Kerk in Sion ontvang het.
Die vriendelike daad volg in reaksie op Xhayimpi se pleidooi om bystand, en het vir hom nuutgevonde vryheid gebring nadat hy talle uitdagings in die gesig gestaar het weens sy gestremdheid.
“Ek is gestremd gebore. Volgens my ma het ek gesukkel om uit te kom, so die hospitaal moes staaltange gebruik om my uit haar baarmoeder te trek. Dit het my geraak, en nou is ek nie in staat om die meeste dinge op my eie te doen nie,” het hy gesê.
Xhayimpi sukkel al jare lank om ‘n rolstoel te bekom, maar was onsuksesvol ten spyte van vele pogings.
Die laaste keer dat hy ‘n rolstoel gehad het, was in 2014, maar dit het uitmekaar uit begin val, wat hom op ander mense aangewese gemaak het.
Sy geluk het egter gedraai as gevolg van Feni se vrygewigheid.
“Ek kon dit nie glo toe ek hoor van die persoon wat ‘n rolstoel vir my wou skenk nie. Dit gaan my ma die moeite spaar om my kerk toe te dra. Nou kan selfs my niggies my rondstoot, en ek kan die sonskyn buite geniet.”
Xhayimpi is dankbaar omdat die rolstoel hom in staat stel om baie dinge op sy eie te doen, wat sy selfvertroue ‘n hupstoot gee.
Die uitdagings wat gestremde individue in die gesig staar, veral betreffende die aanskaf van rolstoele, weeg swaar op Xhayimpi se hart.
“Dit is stresvol om te weet jy is afhanklik van mense vir alles, maar ‘n rolstoel maak dinge makliker omdat enigeiemand jou kan bystaan deur jou rond te stoot sonder om te veel krag te gebruik.”
Feni het van Xhayimpi se lot uitgevind deur radio en sosiale media plasings. Die jong man se storie het Feni geïnspireer om tot aksie oor te gaan.
“Hy probeer nou al lank om ‘n rolstoel te kry. Ek het hom op een van die radioprogramme gehoor waar hy gesê het hy voel soos ’n las vir sy gesin, en die enigste ding wat dit kan verander is om ’n rolstoel te kry.”
Feni was vasbeslote om te help en het die nuus oor Xhayimpi se situasieversprei, en hulp gevra van enigiemand wat kon hand bysit.
Uiteindelik het iemand die broodnodige rolstoel geskenk, wat vir beide Xhayimpi en Feni groot vreugde verskaf het.
Feni glo die regering moet ‘n meer aktiewe rol speel om mense wat met gestremdhede leef te help om rolstoele te bekom, om hulle minder afhanklik van ander mense te maak.
Met die ruimhartige skenking het Xhayimpi se lewe ‘n positiewe wending geneem. Hy kan nou met nuutgevonde onafhanklikheid rondbeweeg, kerk toe gaan sonder om sy ma te pla, en die vreugde ervaar om dit op eie stoom buite te kan waag.
Op die foto hierbo: ‘n Eenvoudige daad van vriendelikheid het onmeetlike verandering in Mncedisi Xhayimpi se lewe gebring, wat wys watter diepgaande impak mense kan maak wanneer hulle behoeftiges ophef
Bron: Verskaf