Dapper Banyana verspeel ‘n goue kans

Banyana v Sweden

Deur Michael Madyira

Banyana Banyana het Sondag vroeg in die tweede helfte van hulle Wêreldbekerwedstryd teen Swede hulle eerste doel van die toernooi aangeteken – maar daarna die voorspring deur hulle vingers laat glip.

Swede het die wedstryd in Groep G in Wellington, Nieu-Seeland, met 2-1 gewen.

Hildah Magaia het in nat toestande drie minute na rustyd ’n doel geskop wat die grondslag vir ’n skoksege kon wees, maar halfpad deur die tweede helfte het Fridolina Rolfo die gelykmaker aangteken en Amanda Ilestedt het die wendoel in die doodsnikke bygevoeg.

Vir konteks: Swede is derde op die wêreldranglys en Suid-Afrika 53ste. Mens sou dit nooit sê nie. Die twee spanne het uitstekend teen mekaar opgeweeg. Ondanks die uitslag het Banyana met eer uit die stryd getree.

Net 12 minute na die afskop het Refiloe Jane ’n ambisieuse langafstandskop doelhok toe geloods wat rakelings bo-oor getrek het.

Daarna het die Proteas se doelwagter, Kaylin Swart, amper-amper ’n doel weggegee toe sy Ingrid Angeldahl se skop misgevang het, maar sy kon betyds opruim.

Swart se eerste wedstryd vir Banyana was in 2018, ook teen Swede, en sy het nie ’n enkele doel afgestaan nie.

Kort voor rustyd het Banyana twee agtereenvolgende aanvalle afgeweer wat met hoekskoppe begin is.

In die foto hierbo: Banyana Banyana teen Swede

Fotobron: Fifa