Deur Lucky Maree
Van nou af tot 10 September is elke Springbok-wedstryd ’n opwarmingswedstryd.
Op daardie dag pak Suid-Afrika Skotland in ’n groepwedstryd by die Wêreldbeker, en Skotland kan wys hoe dapper hulle rêrig is.
Skotland se spelers en toeskouers moes moed geskep het toe hulle sien hoe die Springbokke rondploeter in ’n poging om hulle hand op die bal te kry, laas naweek teen die All Blacks.
Die Skotse afrigter, Gregor Townsend, sit moontlik in ’n pub en wonder oor die Bokke se onoorwinlikheid, en hy waag dit om te glimlag.
Vir die ware aanspraakmakers is elke Wêreldbekerwedstryd belangriker as enige ander wedstryd in die vier jaar tussen toernooie. Selfs ’n wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks.
Groep B by vanjaar se Wêreldbeker is as die Groep van die Dood beskryf. Vir Tonga en Roemenië is dit ’n selfmoordsending. Suid-Afrika, Ierland en Skotland spook sake uit om twee plekke in uitspeelrondes.
Suid-Afrika moet dus geheel en al op die wedstryd teen Skotland fokus. As hulle daai een wen, sal hulle die groepfase oorleef, al verloor hulle teen Ierland.
Die Bokke kon nie vir beter voorbeeiding gevra het nie. Hulle speel twee keer teen Argentinië, teen Wallis en teen Nieu-Seeland.
Net die reisplan is genoeg om ’n span meer gehard anderkant te laat uitkom: Van Auckland na Johannesburg, Buenos Aires, Cardiff en Londen.
Dis goed om te sien Rassie en Kie het die groep behou wat so deur die All Blacks geboelie is. Mens hoop nou hierdie huidige groep gee die losskakel kans om sy werk te doen, en dat hulle momentum opbou sodat hulle gereed sal wees wanneer hulle op 10 September in die Stade Vélodrome in Marseille, Frankryk, teen Skotland opdraf.
In die foto hierbo: Skotland-rugby