Barbenheimer is die flieksensasie van die jaar

Barbenheimer

Barbie teen die vader van die atoombom klink nie na ’n regverdige tweestryd nie, maar in werklikheid is die blondine in pienk dalk ’n kortkop voor die wetenskaplike wat later sy werk berou het.

Toemaar, dié geveg sal nooit plaasvind nie – behalwe by die loket, waar Greta Gerwig se Barbie en Christopher Nolan se Oppenheimer wêreldwyd op dieselfde dag (Vrydag 21 Julie in Suid-Afrika) vrygestel word.

Barbie is ’n effe aweregse komedie met Margot Robbie in die naamrol, en Oppenheimer is a diep drie-uur-lange drama oor die skepper van die afgryslikste wapen wat die mensdom nog gesien het. 

Die Barbenheimer-meme het verskyn nadat dit bekend geword het dat Barbie en Oppenheimer die kalklig saam betree. 

Twitter-gebruikers het die verskil tussen die twee rolprente uitgewys, en daarna was daar geen keer aan die grappe nie.

Kort voor lank het dié geskerts van die internet na die regte wêreld oorgewaai en ’n oornag-sensasie geword. 

Barbenheimer T-hemde, fan-plakkate en digitale samevoegings ken geen einde nie.

Die eerste dag se vertoning is by talle teaters uitverkoop, en daar is Barbenheimer-kostuumpartjies, met fliektema-spyskaarte.

Michael O’Leary, president en uitvoerende hoof van die Nasionate Vereniging van teatereienaars in die VSA, het die opwinding oor dié fliekfenomeen as “ongekend” beskryf.

Die Barbenheimer-effek het gemaak dat die twee spanne wat die flieks verteenwoordig mekaar ondersteun.

Margot Robbie en Greta Gerwig het foto’s van hulleself laat neem waaring hulle Oppenheimer-kaartjies omhoog hou.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Barbenheimer