Geheimsinnige gas werk op Kapenaars se senuwees

Gas in Gugulethu

Deur Buziwe Nocuze

Kaapstadse townships is in vrees gehul, met ‘n sterk reuk van gas wat in die lug hang en veroorsaak dat inwoners hul toestelle afskakel uit vrees dat dit ontploffings sal veroorsaak.

Die reuk het die Gugulethu-gemeenskap Maandag getref, en nie die inwoners of nooddienste het ‘n benul wat dit veroorsaak nie.

Lusindiso Dlamngana van Gugulethu het vir die eerste keer die gasreuk opgemerk terwyl hy gebad het.

Hy het vinnig sy gastoebehore nagegaan, vermoedende dat een van sy kinders dalk ‘n gasbottel oopgelaat het, maar die reuk was ook buitekant en het in die lug bly hang tydens sy besoek aan die winkelsentrum. Verslae van ander gebiede, insluitend Nyanga, Better Life en Langa, het soortgelyke ervarings bevestig.

Nosipho Mzana, ‘n werker by Junction Mall, het aanvanklik gedink die reuk word deur werkverwante gasse veroorsaak.

Mzana het egter gou besef die reuk hang nie net in hul omgewing nie, maar het selfs gebiede so ver as Dunoon bereik.

Inwoners spekuleer oor die bron van die gas, met sommige wat raai dit kom van ‘n besigheid af wat gas verkoop, maar die reuk is oral in die townships.

Inwoners het daarop aangedring dat die Stad Kaapstad sy hulpbronne gebruik om uit te vind wat die reuk veroorsaak aangesien hulle nie meer veilig voel in hul huise nie. Die vrees vir ontploffings of brande het daartoe gelei dat inwoners nie hul gastoestelle gebruik nie.

Selfs rokers vrees dat hul sigarette ‘n brand kan veroorsaak.

Inwoners het gesê hulle is bereid om weer gas te gebruik sodra die Stad die oorsaak van die reuk identifiseer.

Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se Brand- en Reddingsdienste, het erken dat hy talle berigte van ‘n sterk gasreuk uit verskeie gebiede ontvang.

“Ten spyte van die uitsending van spanne om ondersoek in te stel, bly die presiese bron van die reuk onbekend,” het Carelse gesê.

“Ons verseker inwoners dat die situasie fyn dopgehou word, maar op hierdie stadium is dit moeilik om die bron vas te stel.”

* Intussen is Johannesburg se stadsvaders aan’t skarrel om uit te vind wat die ontploffing in die middestad teen vroegaand op 19 Julie veroorsaak het. Die ontploffing het yslike skade aangebring en is eers as gasverwant beskou, maar word nou aan ander oorsake toegeskryf – lees die storie op die Engelse blad.

Op die foto hierbo: Gugulethu