Deur Dylan Bettencourt
Phumza Maweni, die Proteas se 38-jarige doelverdediger, toon geen teken dat haar vaardighede aan die kwyn is terwyl sy haar vir haar derde Wêreldbeker voorberei nie. Inteendeel: sy glo sy word al hoe beter.
Sy is die oudste speler in die span, en haar ervaring is van onskatbare waarde.
Maweni se internasionale loopbaan het relatief laat begin, maar sy het gou getoon dat sy in daardie geselskap hoort, en dit bevestig met haar deelname aan toptoernooie in Engeland en Australië.
Sy is nie net trots op haar spelpeil nie, maar ook op die bydrae wat sy as mentor vir jonger spelers kan maak.
Sy glo vas haar internasionale loopbaan staan nog nie einde se kant toe nie, maar besef dit sal haar laaste Netbal-Wêreldbeker wees.
As deel van haar voorbereiding vir die Wêreldbeker het sy vir die Southern Stings in die Telkom Netbal-Liga gespeel. Sy het daarop gefokus om aan haar vaardighede te skaaf en te verseker sy op haar beste.
Die Proteas speel in Groep C teen Jamaika, Wallis en Sri Lanka, en daar is druk op hulle om voor hulle tuisskare te presteer.
Maweni verstaan die verwagtinge en wil die kans aangryp om haar beste netbal te speel en ander daardeur aan te spoor. Sy wil ’n blywende impak op die baan hê en haar familie trots maak.
In die foto hierbo: Phumza Maweni