Deur Razeen Gutta
Die toeskouers op Old Trafford se James Anderson-pawiljoen sal hulle gelyknamige held in aksie kan sien wanneer Engeland Australië én voorspelde reënweer moet klop as hulle ’n belowende terugvegpoging in die reeks om die As wil voortsit.
Hy vervang Ollie Robinson nadat hy die derde toets misgeloop het.
As Ben Stokes se span die reeks wen, sal hulle die eerste sedert Don Bradman se Aussies in 1937 wees wat ’n agterstand van 2-0 in ’n segetog omskep.
Om dit te vermag, moet hulle Australië vir die eerste keer in Manchester klop sedert 1981 – ’n jaar voor Anderson se geboorte.
Die einste Anderson lei Engeland se boulaanval. Bewolkte weer, wat sy swaaiballe sal pas, word vir groot dele van die volgende vyf dae voorspel.
Hy is die bouler met die meeste paaltjies in Engeland se geskiedes, maar kon in die eerste twee Toetse net twee daarby voeg.
Op sy tuisveld kan hy die bordjies verhang. Dis waarop Stokes reken.
“Wanneer jy die afgelope 20 jaar ’n topspeler is soos Jimmy, sal jy teleurgesteld wees as jy nie dieselfde bydrae tot jou span kan lewer nie,” het hy op ’n perskonferensie gesê.
“Maar selfs wanneer hy nie paaltjies neem nie, sit hy druk op die kolwers, wat lei tot paaltjies van die ander kant af. Ek het geen probleem met hom nie.”
Stokes het bygevoeg hy hoop die weer speel saam.
“Mens wil nie heeltyd jou oog op die weer hou nie, maar in ons posisie sal ons dalk moet. Dis ’n wedstryd wat ons moet wen as ons die As wil terugkry.”
In die foto hierbo: Old Trafford
Fotobron: @bwin_uk