Deur Dylan Bettencourt
Carlos Alcaraz het Sondag op Wimbledon sy briljantheid ten toon gestel en gewys hy is hier om te bly. Sy eindstryd teen Novak Djokovic het twee generasies teen mekaar afgespeel, en jeug het geseëvier.
Djokovic het die wedstryd aanvanklik oorheers, soos die telling van die eerste stel, 6-1, duidelik aandui.
Maar van opgee was daar geen sprake nie, en in die tweede stel het Alcaraz gewys hy is die ou meester se gelyke, en sy spel by die situasie aangepas.
Die jong Spanjaard se skeppende vermoëns en al sy vaardighede, fisies en takties, is aan die wêreld blootgelê.
Daar was tallose onverwagte kinkels en draaie, met Alcarez wat die voortou neem en verbygesteek word, en Djokovic wat tekens van frustrasie begin toon.
In een stadium het Djokovic die baan verlaat vir behandeling aan sy been en met bomenslike kragte teruggekeer.
Alcaraz se fut was kortstondig uit en hy het die vierde stel verloor, maar hy het sy fokus in ’n japtrap herwin en asembewende houe gespeel.
Die intensiteit het in die beslissende stel ’n hoogtepunt bereik en Djokovic, op die rand van ’n nederlaag, het sy frustrasie op sy raket uitgehaal deur ’n netpaal daarmee te slaan.
Die 20-jarige Alcaraz se spel was die van ’n gesoute veteraan, wat ’n hedendaagse meester onttroon het.
As hy daarop kan voortbou, sal hy vir elke ander speler ’n gevaar inhou.
Die wedstryd was bewys van sy talent en innerlike krag. Hy het verpletterende voorhandhoue en die allerdelikaatste valhoutjies met ewe veel vernuf uitgevoer.
En hy het bowenal nie onder druk geswig nie.
Hoewel Djokovic dapper teruggeveg het, het hy kwesbaar teen Alcaraz se meedoënlose terughoue gelyk.
Die nuwe kampioen se sege sal ’n sleuteloomblik in sy loopbaan bly. Mag hy sy uitsonderlike talent nog jare lank ten volle uitleef.
In die foto hierbo: Alcaraz met sy buit