Drie kleintjies sterf tragiese gifdood

Poison killed 3 kids

Deur Buziwe Nocuze

Drie jong kinders, insluitend ‘n kleuter, het gesterf nadat hulle glo gif by ‘n onwettige stortingsterrein in Khayelitsha ingeneem het.

Die slagoffers is geïdentifiseer as die sesjarige Athanathi Janda, sy eenjarige suster Alunezo Janda, en hul sesjarige buurkind, Libongwe Mahlatshana.

Zuzuke Janda, die ouma van twee van die slagoffers, het gesê Athanathi het saam met Libongwe, sy vriend wat langsaan gewoon het, by die stortingsterrein gaan speel.

“Hulle was honger toe hulle tuiskom en het kos gevra, en ek het vir hulle pap met wors gegee,” het Janda gesê.

Janda het ook pap en suurmelk (amasi) vir haar kleindogter, Alunezo, voorberei.

Die noodlot het egter toegeslaan kort nadat die kinders geëet het.

“My bure se seuntjie is huis toe. Die twee kleinkinders was by my in die huis toe die oudste een oor sy maag begin kla,” het Janda gesê.

Toe Janda gevra is oor hoe die eenjarige moontlik gif kon inkry as sy nie by die stortingsterrein was nie, het Zuzuke ‘n ontstellende moontlikheid voorgestel.

“Ek dink die twee ander kinders wat na die stortingsterrein gegaan het, het vergiftigde kos daar geëet en teruggekom en aan die eenjarige geraak met gif op hulle hande, wat haar aangetas het,” sê Janda.

Toe Athanathi, die oudste kleinseun, se maag erg begin pyn en die sweet hom aftap, het Janda, in ‘n desperate poging om hulp te soek, die bure gevra om na die slapende Alunezo te kyk.

“Ons het nie eers kans gekry om die kinders hospitaal toe te neem nie, want ek het my na ‘n kerkvrou gehaas vir hulp, maar my kleinseun is dood,” het Janda gesê.

Met hul terugkeer het hulle ‘n hartverskeurende ontdekking gemaak.

“Toe ek terugkom, het my buurvrou my gevra hoe lank my kleindogter geslaap het, want sy was nog nie wakker nie. Ons het gaan inkyk, en sy was dood. Dit het so vinnig gebeur,” het Janda gesê.

Later die dag het die familie gehoor dat die buurkind ook in die hospitaal dood is.

Dunyiswa Magida, die buurman wat Libongwe na die hospitaal vergesel het, het gesê sy ma het die seuntjie gevind waar hy in die bed lê.

“Hy het gekla dat hy warm en duiselig voel. Sy het vir hom gesê om regop in die bed te sit, maar hy kon nie, toe vra sy my om met hom hospitaal toe te jaag,” het Dunyiswa gesê.

Wes-Kaapse SAPD woordvoerder Adjudant-offisier Joseph Swartbooi het bevestig dat die Khayelitsha-polisie op Donderdag 13 Julie op ‘n klag gereageer het.

Op die foto hierbo: Drie kinders het tragies hul lewens verloor nadat hulle na bewering vergiftigde kos by ‘n onwettige stortingsterrein geëet het

Bron: Verskaf