Putin net virtueel welkom in SA

Deur Zukile Majova

Die Suid-Afrikaanse regering het ‘n duidelike standpunt ingeneem: Russiese president Vladimir Poetin word nie genooi om die BRICS-beraad by te woon nie.

‘n Afvaardiging van Rusland is wel genooi na die 15de herdenking van BRICS-lande, wat volgende maand in Johannesburg plaasvind. Maar president Cyril Ramaphosa se regering is in voortdurende samesprekings met die Russe sodat Poetin vanuit Moskou kan deelneem deur middel van virtuele vergaderingsplatforms.

Dit kom nadat Poetin, wat deur die Verenigde Nasies as aggressor in die oorlog in die Oekraïne verklaar is, deur die Internasionale Strafhof (ISH) vir oorlogsmisdade aangekla is. Hy word vervolg vir die ontvoering van Oekraïnese kinders deur die Russiese weermag.

As ‘n ondertekenaar van die Rome-statuut wat die ISH beheer, word daar van die Ramaphosa-regering verwag om Poetin te arresteer as hy sy voet in Suid-Afrika sou sit.

Adjunkpresident Paul Mashatile het gesê die regering het moeite gedoen om Poetin te oorreed om nie volgende maand se beraad by te woon nie.

“Dit is vir ons ‘n groot dilemma. Natuurlik kan ons hom nie in hegtenis neem nie. Dit is amper asof jy jou vriend na jou huis toe nooi, en hom dan arresteer. Daarom is sy afwesigheid by die beraad ons beste oplossing.

“Die Russe is egter nie gelukkig nie. Hulle wil hê hy moet kom,” het Mashatile in ’n onlangse onderhoud gesê.

Afgeskrik deur die nagevolge, insluitend die uitwerking van indirekte sanksies op Suid-Afrika se ekonomie, het Ramaphosa se regering voorgestel dat die beraad na China verskuif word, om die beraad virtueel aan te bied, of dan Poetin se virtuele bywoning.

BRICS-lande het al drie opsies verwerp aangesien die komende vergadering die eerste fisiese bymekaarkoms is van BRICS-lande in ‘n post-Covid-era.

Die opkomende ekonomie-lande sê hulle het ‘n volledige program gereed vir die beraad, insluitend die oorweging van aansoeke deur ander opkomende ekonomieë om by die groep aan te sluit.

Ramaphosa se adjunk lei ‘n regeringstaakspan wat soek na oplossings vir die Poetin-probleem. Die president sal na verwagting ook nog ‘n kans hê om SA se posisie aan Poetin te verduidelik wanneer hulle vergader tydens die Afrika-Rusland-beraad wat op 27 en 28 Julie in St Petersburg plaasvind.

Leier van die EFF, Julius Malema, het die ANC daarvan beskuldig dat hulle hulself “uitverkoop” en deur Westerse moondhede tot onderdanigheid geboelie is.

Op die foto hierbo: Vladimir Poetin en Cyril Ramaphosa in gelukkiger tye