Deur Buziwe Nocuze
Die Qhakaza-groep vir mense met gestremdhede in Kaapstad het kragte saamgesnoer met die kleinhandelreus Woolworths om ‘n uitdaging aan te spreek wat daagliks ervaar word deur mense met net een been.
Die finansiële druk op gestremde mense wat aangewese is op ongeskiktheidstoelae is in ag geneem toe die groep gratis skoene vir behoeftiges beskikbaar gestel het.
James Soganga, die stigter van Qhakaza, het verduidelik hoekom Woolworths genader is.
“Dis geldmors om ‘n paar skoene vir R500 te koop wanneer jy net een skoen gaan gebruik. Gestremde mense is afhanklik van die ongeskiktheidstoelae en daar is klomp goed wat hulle moet aanskaf,” het hy gesê.
“Ons het nooit gedink dat Woolworths vir ons die skoene gratis sou gee nie, maar ons is bly dat hulle nou skoene vir gestremde mense borg.”
Hy het gesê die inisiatief het ‘n positiewe uitwerking op die lewens van gestremdes, wat hulle in staat stel om hul beperkte hulpbronne op ander noodsaaklikhede te spandeer.
Qhakaza-tesourier Simphiwe Ngxamngxa het die belangrikheid daarvan beklemtoon om die regte van gestremdes te bevorder.
“Ons herinner gestremde mense daaraan dat daar lewe ná gestremdheid is. Die feit dat hulle hulself in nuwe situasies bevind, soos om ‘n rolstoel te gebruik of dele van hul liggame te verloor, beteken nie dat hulle anders is nie,” het Ngxamngxa gesê.
“Baie van hulle het heeltemal ophou skoene dra, maar nie uit eie keuse nie. Hulle was daartoe gedwing omdat die toelaag-geld vir kos en klere moet betaal.”
Hy het die positiewe uitwerking van hierdie samewerking geprys, want dit maak ‘n daadwerklike verskil.
Om te verseker dat die regte mense hierdie broodnodige skoene ontvang, gebruik die Qhakaza-groep sosialemediaplatforms soos WhatsApp en Facebook om kontak te maak met behoeftiges.
Siviwe Mkunyana is een van die begunstigdes en het gesê hy is tevrede met die Qhakaza-groep, en het Woolworths geloof vir hul toewyding om die gemeenskap te help.
Hy het ondernemings aangeraai om Woolworths se goeie voorbeeld te volg.
“Ons het meer besighede soos Woolworths nodig. Nou kan ons ophou skoene koop wat ons nie gaan gebruik nie,” het hy gesê.
“Ons kannie die winkels blameer dat hulle net pare skoene verkoop of dat hulle dieselfde geld vra nie, al gaan ons net een skoen dra. Hulle doen besigheid, maar ons is dankbaar teenoor Woolworths.”
Op die foto hierbo: Simphiwe Ngxamngxa en James Soganga van die Qhakaza-gestremdheidsgroep wat die skoene wys wat deur Woolworths geskenk is
Bron: Buziwe Nocuze