Polisie slaan toe op verdagtes in NMB massasmoord

Polisie

Deur Anita Dangazele

Die Oos-Kaapse polisie het vyf verdagtes in hegtenis geneem binne 48 uur ná die wrede massamoord op ses individue by wat beskryf is as ‘n dwelmhool in Nelson Mandelabaai.

Polisiewoordvoerder Kolonel Priscilla Naidu sê die vyf verdagtes, tussen 21 en 34 jaar oud, is Donderdag in die vroeë oggendure gearresteer.

Die verdagtes het glo Dinsdagaand omstreeks 7:40nm afgestorm op ‘n beweerde dwelmhuis in Mdledlestraat in KwaNobuhle. Ses mense is doodgeskiet en minstens vier ander gewond.

Kolonel Naidu het gesê die deurbraak was die gevolg van gesamentlike pogings deur die Provinsiale Eenheid vir Ernstige en Gewelddadige Misdade, Misdaadintelligensie, die Taktiese Reaksiespan en Anti-bende eenhede.

“Die voorval blyk dwelmverwant te wees,” het sy gesê.

“Die verdagtes word aangehou op ses aanklagte van moord en vier van poging tot moord.”

Kolonel Naidu het gesê Provinsiale Polisiekommissaris Nomthetheleli Mene het hierdie deurbraak as prysenswaardig beskou.

Sy het gesê die taakspan het toewyding en vaardigheid getoon om diegene vas te trek wat verantwoordelik was vir die moorde en pogings tot moord.

“Die span het sedert hierdie voorval dag en nag gewerk en hul eie gerief en veiligheid opgeoffer om te verseker dat die arrestasies vertroosting bring vir die slagoffers se families,” het Kolonel Naidu gesê.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Intussen is die oorledenes se name Donderdag bekend gemaak.

Hulle was Siyabonga Williams, 24, Sinovuyo Nene, 24, Mzuvukile Grootboom, 33, Siyamthanda Vena, 27, Siyanda Luther Mlilwana, 29, en Sivenathi Mxaku, 17.

Op die foto hierbo: Die huis in Mdledlestraat waar die skietery plaasgevind het.

Bron: Anita Dangazele