Hoe lyk’it met bietjie burger by jou kaas?

Burger King Thailand het nou ‘n aanbieding vir die mensdom se heel gretigste kaasvrate. Nuut op die spyskaart is ‘n vleislose burger gevul met ‘n asembenewende 20 snye Amerikaanse kaas.

“Dis ‘n happie hemel!” sê sommige kliënte, terwyl ander die Real Cheeseburger as gans te kaserig uitkryt.

Maar die kaasburger is duidelik ‘n sukses. Berigte dui daarop dat Burger King-takke afleweringsbestellings moes staak net om tred te hou met die aanvraag van gretige kaas-koppe.

Burger King is nie op die bek geval wanneer dit die bemarking van hul skepping aanbetref nie.

Hulle verkondig prontuit: “Dis die ware Jakob,” en moedig eters aan om daarmee te spog wanneer hulle die kaasburgers verslind.

Die burger laat party kliënte se kreatiwiteit na vore kom. Een vernuftige voorstel is om van die kaas te spaar en die volgende oggend saam met jou brekfisbroodjie te geniet.

Dit is nodig om te noem dat die Real Cheesburger sonder enige ander bestanddele soos tamaties of blaarslaai bedien word. Dit gaan alles oor die kaas!

Vir ‘n beperkte tyd kan jy hierdie kaasbederf in die hande kry teen ‘n afslagprys van 109 Thaise baht (R57) – spotgoedkoop in vergelyking met die gewone burgerprys van 380 baht (R200).

Saamgestel deur eie beriggewer

Op die foto hierbo: Die nuwe en trending cheeseburger