Deur Anita Dangazele
Die jongste slagoffer van Nelson Mandelabaai se mees onlangse massaskietery is ‘n 17-jarige meisie, wat onder diegene was wat doodgeskiet is by ‘n plek wat die gemeenskap as “dwelmstop” beskryf het.
Sivenathi Mxaku is saam met vyf manlike slagoffers doodgeskiet toe drie gewapende mans Dinsdagaand op ‘n eiendom in die Kwanobuhle-township losgebrand het. Polisiewoordvoerder kolonel Priscilla Naidu het gesê nog vier mans en ‘n vrou is beseer.
Die polisie sê omstreeks 7:30nm het ‘n motor voor ‘n huis in Mdledlestraat stilgehou.
Drie mans het na bewering met gewere uit die motor gespring en losgebrand op Mxaku en haar vriend, wat by die hek gestaan het.
Haar ouma, Nosiseko Thube, 78, het haar beskryf as ‘n stil kind wat haar nooit enige moeilikheid gegee het nie.
“Ek het haar die oggend laas gesien toe ek ‘n begrafnis bygewoon het in die huis langs die een waar sy geskiet is,” het Thube aan Scrolla.Africa gesê.
“Ek het vir haar gesê om huis toe te gaan en iet te gaan eet. Toe ek van die begrafnis by die huis kom, is daar vir my gesê dat sy hierheen gekom het soos ek voorgestel het. Dit was die laaste keer dat enige van ons haar gesien het.”
Mxaku was die jongste van diegene wat gesterf het en die enigste vrou. Sy het na bewering die skoolbanke verlaat, maar was van plan om volgende jaar terug te gaan – en toe word haar lewe kortgeknip.
Volgens die polisie was die eienaar van die huis nie teenwoordig toe die skietery plaasgevind het nie.
“Die eienaar van die plek is ondervra en het vir die span gesê hy het saam met sy broer gaan kos koop. Toe hulle daar weg is was daar mense wat by die shack agter die hoofhuis staan en rook het,” het die polisie gesê.
Die polisie sê die motief vir die skietery is op die oomblik onbekend, maar doen ‘n beroep op gemeenskapslede om na vore te kom met enige inligting wat hulle mag hê.
Toe Scrolla.Africa by die toneel van die skietery aankom, het gemeenskapsleiers ‘n fluitjie geblaas en inwoners beduie om vir ‘n vergadering bymekaar te kom.
Inwoners was egter te bang om te praat; hulle het omgedraai en teruggegaan huis toe.
‘n Gemeenskapslid wat op voorwaarde van anonimiteit met Scrolla.Africa gepraat het, het gesê niemand sal na vore kom nie omdat hulle bang is vir die eienaar van die huis waar die skietery plaasgevind het.
“Mense hier is bang vir hom. Hy leen geld aan meeste van die ou mense hier, en hy gee vir die jongeres dwelms om te rook.
“Selfs as iemand met inligting na vore wou kom, sou hulle nie, want niemand weet wie oor hulle sou gaan klik nie,” het sy gesê.
In Januarie is agt mense dood toe twee gewapende mans by ‘n verjaardagviering in die township Kwazakhele in Nelson Mandelabaai losgebrand het.
Op die foto hierbo: Die huis waar die skietery plaasgevind het
Bron: Anita Dangazele