Soete Wimbledon-wraak vir Jabeur

Deur Razeen Gutta

In ’n skitterende terugvegpoging in die kwarteindronde by Wimbledon het Ons Jabeur van Tunisië die verdedigende kampioen, Elena Rybakina van Kazakhstan, met spoed, vaardigheid en wraakgedagtes op die hoofbaan uitgeskakel.

Die telling was 6-7, 6-4, 6-1. Rybakina het Jabeur in verlede jaar se eindstryd geklop.

Jabeur kon nie blyer gewees het nie. “Ek gaan eendag ’n boek skryf oor my emosies,” het sy na die wedstryd gesê.

Die strawwe eerste stel is op ’n uitklop-pot beslis, waarin Rybakina die oorhand gehad het. Dit het Jabeur aangevuur om nóg beter te speel.

In die daaropvolgende twee stelle het Jabeur die baan geheel en al oorheers om haar plek in die halfeindronde te bespreek.

Jabeur is slegs die tweede vrou vanjaar wat ’n wedstryd in die kwarteindronde van ’n Grand Slam toernooi kon wen nadat sy die eerste stel verloor het.

“Ek is uiters tevrede. Sy slaan so goed af, ek is bly my terughoue was in die kol. Ek was uiters emosioneel. Ek het geskree, ek was kwaad, maar toe kalmeer ek en fokus. Ek wil my emosies voortaan beter onder bedwang hou.”

Jabeur speel Donderdag teen Aryna Sabalenka in die halfeindronde. Die eindstryd vind Saterdag plaas.

In die foto hierbo: Ons Jabeur 

Fotobron: @z_kortu