Rhesus-ape sê nee vir hetero-seks

Wetenskaplikes op ’n eiland in Puerto Rico het op ’n fassinerende geheim afgekom: sommige rhesus-aap-mannetjies wil veel eerder met mekaar snoesig raak as met wyfies.

Maar die vreemdste van alles is dit dit geen impak het op geboortesyfers nie.

Daar is voorheen om opsigtelike redes geglo dat dié gedragspatroon babagetalle sal laat afneem. Inteendeel! Aapmannetjies wat hulle piesangs aan albei kante gebotter wil hê, bevrug meer wyfies as hulle teenstanders wat meer gefokus is.

Die studie is op die eiland Cayo Santiago uitgevoer, waar ’n aapkolonie in die dertigerjare gevestig is vir navorsingsdoeleindes.

Die navorsingspan het 236 mannetjies bestudeer, en gevind dat 72% seks met hulle geslagsgenote geniet. Net 46% het met wyfies gepaar.

Die mannetjies wat mekaar se aandag so uitermate waardeer, vorm koalisies wat hulle sosiale stand verhoog, en hulle groter toegang tot wyfies verleen. Dis dié dat hulle meer suksesvol voortplant.

Ontleding dui daarop dat genetika verantwoordelik kon wees vir 6.4% van die onverwagte optrede.

Die navorsers beoog om spesifieke gene te ondersoek wat ’n invloed het op seksuele gedrag.

Hulle glo hierdie bevindinge kan lig werp op die evolusie van homoseksualiteit in mense, aangesien mense en rhesus-ape ’n oer-voorouer deel.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Ape