Slakwedlope stadig uit die blokke

Op julle merke, gereed, rus! Na ’n afwesigheid van drie jaar weens Covid-19 was die Slakresies-Wêreldkampioenskappe Saterdag terug by die Grimston Krieketklub in die dorpie Congham, Norfolk, Brittanje.

Die byeenkoms, wat deur die Guinness World Records erken word as die wêreldkampioenskap virslakwedlope wat die langste bestaan, het ’n jaarlikse fees geword waar die rekords kan tuimel. Dit gebeur selde. Moenie aan ’n ding karring wat werk nie.

’n Slakmeester staan in beheer van sake, om seker te maak dinge ruk nie handuit nie. Hy moet onder meer sorg dat die baan klam gehou word, vir die allerbeste wedloopterrein, en tree ook op as afsetter. Mens moet seker maak jy stel iemand aan wat kan multitask.

Die kompetisie is in die sestigerjare deur Tom Elwes geskep, nadat hy sy inspirasie uit ’n soortgelyke byeenkoms in Frankryk geput het.

Deur die jare was daar talle puik prestasies, soos byvoorbeeld Thomas Vincent se drie agtereenvolgende seges van 1998 tot 2000.

O, maar wag bietjie. Daai klink na ’n verneukspul. Thomas eis heldeverering wat sy slakbrigade toekom!            

Die slakke ding mee om ’n baan, 32 cm ver, met ’n dolle gejaag – teen ’n slakkepas – in die

pylvak na die wenstreep.

Die rekord staan op presies twee minute, opgestel deur Archie, ’n slak wat deur Carl Bramham in 1995 afgerig is. Dis 28 jaar gelede!

Vanjaar se wenner is Evie. Haar afrigter is die vierjarige Lettie Spragg, die jongste in die geskiedenis.

In haar leeftyd, sou mens wou droom, gaan sy nog die slak afrig wat deur die magiese twee-minuut kerf breek.

Saamgestel deur eie beriggwer

In die foto hierbo: ’n Slakresies in stadige aksie