Simboliese hofsege vir Caster

Caster Semenya se appèl teen ’n beslissing dat sy haar aan testostoroonvlak-toetse moet onderwerp, het in die Europese Menseregtehof geslaag – maar dit gaan nie haar kanse om aan internasionale atletiek deel te neem verbeter nie. Dit is bloot ’n simboliese sege.

Die tweemalige Olimpiese 800m-kampioen is amptelik geklassifiseer as “’n persoon met eiesoortige seksuele ontwikkeling”. Sy moet haar testostoroonvlakke met medikasie verminder om te kan deelneem.

Semenya het vroeër ’n saak in die Hof vir Sportarbitrasie in Switserland verloor, wat deur dié land se appèlhof bekragtig is.

Haar poging om haar deelnemerstatus te herwin sonder om haar aan testostoroonvlaktoetse te onderwerp, duur voort.

Die Europese Menseregtehof se beslissing lui dat die Switserse hof Semenya nie van genoegsame institisionele beveiliging voorsien het om haar saak doeltreffend te kon stel nie.

Saamgestel deur eie beriggewer

In die foto hierbo: Caster Semenya