Ma en seun was kop in een mus met beplanning van dokter se moord

Deur Anita Dangazele

Die eksvrou van Gqeberha-dokter Bantu Noqekwa, wat daarvan aangekla word dat sy die hoofbeplanner was van die geliefde mediese man se moord, het Dinsdag in New Brighton Landdroshof in Gqeberha verskyn.

Aan haar sy was haar oudste seun, wat volgens die polisie beken het dat hy saam met sy ma beplan het om sy pa te vermoor.

Ethel Mphahlwa-Noqekwa, 46, is vroeg in Junie in hegtenis geneem. Haar seun, Khanyisa Noqekwa, 19, is in hegtenis geneem nadat hy glo aan die polisie gesê het die plan om sy pa te vermoor is in Desember beraam, nadat sy ma vir hom vertel het dat sy pa beplan om haar te laat vermoor.

Noqekwa het sy seun se versoek om inisiasieskool toe te gaan, geweier, wat bygedra het tot sy betrokkenheid by die komplot.

Volgens polisieverslae het Mpahlwa-Noqekwa ‘n middelman ingesleep om te help om die moord te reël. Dié middelman het sedertdien staatsgetuie geword en in besonderhede vertel van die moordkomplot en onderliggende geldelike motiverings.

Die middelman het beweer Mpahlwa-Noqekwa het gepraat van haar gespanne verhouding met Noqekwa weens finansiële probleme. Hulle het ook beweer dat sy hulp gevra het om huurmoordenaars te vind om die sluipmoord uit te voer, aangesien dit haar geldnood sou oplos.

Mpahlwa-Noqekwa was na bewering bewus van haar eksman se lewensversekeringspolisse en trustfondse, en het geweet dat haar eersgebore seun as die eksekuteur aangewys sou word.

Die aand van 3 Mei het vier mans by Noqekwa se kamers in die township Zwide in Gqeberha inbars. Die koelbloedige moordenaars het na bewering die oorlede dokter op die ondersoektafel vasgemaak voordat hulle hom verskeie kere in die kop geskiet het.

Daar word beweer dat die ma en seun-duo die oorlede dokter se finansiële adviseur enkele dae ná die voorval besoek het en ‘n magtigingsbrief voorgelê het om die seun as die eksekuteur van die trustfondse en polisse te bevestig.

Die beskuldigde het na bewering geld van ‘n Caltex in Forest Hill onttrek en ‘n sangoma betaal vir ‘n reinigingsritueel.

Landdros Mphuthumi Mpofu het Dinsdag in sy uitspraak gesê die dokter se dood is gelykstaande aan ‘n aardbewing aangesien dit “die pilare van die hele provinsie geskud het”.

Mphahla-Noqekwa se aansoek om borgtog is Dinsdag geweier. Khanyisa Noqekwa se borgtogverhoor is vir 17 Julie vasgemaak.

Mphahla-Noqekwa sal op 17 Augustus saam met al die ander beskuldigdes in die beskuldigdebank verskyn. Beide ma en seun is aangekla van sameswering om moord te pleeg, en moord.

Op die hierfoto: Nothukela Ethel Mpahlwa- Noqekwa in die beskuldigdebank

Bron: Verskaf