Mashatile se BBP-beskermingseenheid geskors

Deur Everson Luhanga

Al agt polisiebeamptes wat by die N1-aanrandingsaak betrokke was, is vanaf Maandag 10 Julie ingevolge die SAPD se dissiplinêre regulasies geskors. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het Maandagaand die skorsings bevestig.

Mathe het gesê die SAPD wil die saak nie verder bespreek nie.

Adjunkpresident Paul Mashatile het verlede week bevestig dat die BBP-beskermingslede wat verlede Maandag op kamera vasgelê is terwyl hulle ongewapende motoriste wreed aanrand, in sy diens was.

Nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola het verlede week gesê dat “die gedrag wat ons almal gesien het, onaanvaarbaar is”.

“Wat voor dit gebeur het, kan ek jou nie vertel nie. Ons ondersoek dit. Al wat ons nou sê, is dat die gedrag wat ons sien onaanvaarbaar is.”

Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, het gesê dis ‘n skande dat hierdie beamptes nog nie in hegtenis geneem is nie. “Hierdie BBP-polisielede ontvang BBP-behandeling. Hulle is misdadigers. Hulle moet gearresteer en vervolg word vir poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, intimidasie, die rig van ‘n vuurwapen, en beskadiging van eiendom,” het hy gesê.

Die beamptes is verfilm terwyl hulle mans aanrand wat later as lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag uitgeken is.

Verlede week het Robbie Raburabu, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat, gesê ondersoekers was in kontak met die familielede van die slagoffers sodat hulle met die indiening van klagtes gehelp kon word. Gesprekke is aan die gang om ook die slagoffers se werkgewers te kry om met die ondersoeke te help.

Verskeie mense, insluitend politieke partye en burgerlike organisasies, het die voorval veroordeel en gevra vir die arrestasie van die polisielede wat by die saak betrokke is.