Deur Razeen Gutta
’n Skittervertoning deur Ons Jabeur, waarin sy die negende speler op die wêreldranglys, Petra Kvitova, in skoon stelle geklop het, beteken sy kan vergoed vir haar nederlaag teen Elena Rybakina in laasjaar se eindstryd.
Jabeur het dit Maandag in haar onderhoud na die wedstryd genoem. Sy koester wraakgedagtes. En sy is vasbeslote om die eerste Arabiese speler te word wat ’n Grand Slam wen.
“Ek soek wraak,” het sy reguit gesê. Laasjaar se eindstryd was ’n groot teleurstelling.”
Jabeur was Maandag onstuitbaar. Haar sege het net meer as ’n uur gekos. Nie baie toeskouers by die hoofbaan sou so ’n eensydige wedstryd tussen twee spelers in die top 10 verwag het nie.
Nadat Jabeur, sesde gekeur, twee jaar gelede die eerste Arabiese speler geword het wat die kwarteindrinde by Wimbledon haal, het sy dié prestasie nou twee keer herhaal.
“Die kwarteind gaan baie herinneringe aan laasjaar se eindstryd terugbring. Ek hoop ek speel soos vandag, want Elena is ’n wonderlike speler. Dis boem-boem, van begin tot einde, geen genade. Dit gaan ’n moeilike wedstryd wees.”
Die kwarteindstryd vind Woensdag plaas.
In die foto hierbo: Ons Jabeur
Fotobron: @wimbledon