Deur Dezzi Lennox
Met Wêreldbekerkoors aan die oplaai, voel die amper asof rugbygeesdriftiges konsensus bereik het: vir die eerste keer gaan twee spanne uit die noordelike halfrond – Ierland en Frankryk in hierdie geval – medegunstelinge wees om rugby se grootste prys in te palm.
Ekskuus? Het iemand al van die Springbokke en die All Blacks gehoor?
Ierland is bo aan die wêreldranglys en Frankryk tweede. Op die veld tydens die Wêreldbeker, wat op 8 September in Stade de France afskop, gaan dit nie veel tel nie. As hulle dit nie voor die naweek geweet het nie, weet hulle dit nou.
Suid-Afrika en Nieu-Seeland begin spoed optel, soos hulle onderskeie kragseges teen Australië (43-12) en Argentinië (41-12) bewys het. As die dolosse reg val, kan eerskomende Saterdag se toets in Auckland ’n voorsmakie van die Wêreldbeker-eindstryd wees.
Ongeag die uitslag van Saterdag se toets, is die verdedigende kampioenspan, Suid-Afrika, ’n kortkop voor, om een rede: meer diepte.
Mens sou die span wat Australië so lelik afgeransel het as naasbestes kon beskryf, maar in werklikheid sou hulle die eerste keuses, waarvan 12 klaar in Nieu-Seeland gesit het om vlugflouheid teen te werk, op ’n goeie dag kon klop as die bal gunstig wip.
Dis ’n span wat die Wêreldbeker sou kon wen.
Geen enkele ander span kan ’n reserwebank met soveel vaardighede en krag laai nie. As 2019 se ses impak-voorspelers die bomb squad was, is die 2023-model die kernbom-squad.
Natuurlik is daar vrae, soos Manie Libbok se stelskoppe én kantlynskoppe, en Willie le Roux se vermoëns in die lug, maar ’n ander is klinkklaar beantwoord: die agttal verstaan nou hulle werk is om die teenstanders sag te maak, losballe te wen en hulle eie giftige agterlyn los te laat.
Die eerste Wêreldbekerwedstryd is tussen die Franse hane en die All Blacks. Wanneer die eindfluitjie blaas, kan daar chaos in die hoenderhok wees.
In die foto hierbo: Kurt-Lee Arendse trek ’n Cheslin Kolbe op die Wallabies
Fotobron: Springbokke