Root moet vir sy blapse vergoed

Deur Dezzi Lennox

Joe Root moet Vrydag ’n superbeurt vir Engeland teen Australië op Headingly in Leeds speel, nadat hy die alsydige Aussie Mitchell Marsh ’n lewe gegun het met ’n verbroude vangkans toe hy op 12 gestaan het.

Dis toe dat Marsh lostrek en bewys Engeland – en bowenal Ben Stokes – het nie kopiereg op vreeslose, verwoestende kolfwerk nie. Hy het 106 lopies bygevoeg met 17 viere en vier sesse en aansien aan ’n andersins flouerig kolfpogoing verleen.

Met die telling op 240 vir vier was die Aussies weer in die saal, maar toe volg daar ’n skouspelagtige ineenstorting van ses paaltjies vir 23 lopies – hoofsaaklik te danke aan die Engelse blits Mark Wood, wat die paaltjies in alle rigtings laat spat het.

Root het ook vir Alex Carey laat val en Jonny Bairstow vir Steve Smith en Travis Head. As dit nie vir hulle bottervingers was nie, kon Engeland die Aussies vir heelwat minder as 200 uitgeboul het.

Die einste Root en Bairstow hervat Vrydag die kolfbeurt, onderskeidelik op 19 en 1, nadat Marsh en Pat Cummins Engeland se top-drie met swaaiballe pawiljoen toe gestuur het.

In die foto hierbo: Mitchell Marsh kry ’n drukkie ná sy honderdtal 

Fotobron: ESPNcricinfo