Jan Kakebeen die worsbroodjie wenner

Joey word nie verniet Jaws genoem nie. Joey “Jaws” Chestnut het weereens sy oorheersing in die wêreld van mededingende etery bewys.

Hy het daarin geslaag om 62 worsies en rolletjies binne net 10 minute in sy keel af te gooi.

Hy het sy 16de titel by Nathan’s se Vierde Julie Worsbroodjie-kompetisie in New York verseker.

Die bekende mededingende eter van Indiana het bewys hy is in ‘n gulsige vraatklas van sy eie toe hy sy mededingers verbygesteek het. Geoffrey Esper het ver tweede gekom nadat hy 49 worsbroodjies geëet het.

Alhoewel Chestnut tekort geskiet het van sy eie rekord van 76 worsbroodjies wat in 2021 opgestel is, het die stormweer wat ‘n vertraging van twee uur in die kompetisie veroorsaak het ‘n rol gespeel in die effens laer telling.

Ten spyte van die gure toestande het Chestnut kop en skouers bo sy mededingers uitgestaan en sy verligting uitgespreek dat die kompetisie kon voortgaan.

Om die Mosterdgordel te wen het vir hom ‘n wipplank van emosies geword, gegewe die onsekerhede rondom die kompetisie. In 2015 het Chestnut die titel tydelik moes afstaan aan die YouTube-sensasie Matt Stonie, wat 62 worsbroodjies geëet het vergeleke met Chestnut se 60.

In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen, Miki Sudo, haar negende titel ingepalm deur 39-en-‘n-half worsies en rollejies te verorber.

Ondanks ‘n paar vroeë afleidings het sy die naaswenner in haar mosterdgas agtergelaat: Mayoi Ebihara kon maar 33-en-‘n-half worsbroodjies afgewurg kry.

Nathan’s se worsbroodjie-eetkompetisie, wat vermoedelik in 1972 ontstaan ​​het, het deelnemers van regoor die wêreld gelok, insluitend Engeland, Kanada, Suid-Korea, Japan, Brasilië en Australië.

Joey Chestnut se deurlopende sukses en merkwaardige prestasies in mededingende eetgewoontes maak steeds van hom ‘n legende in die wêreld van vraatsug.

Op die foto hierbo: Joey “Jaws” Chestnut 

Fotobron: Twitter