Deur Dylan Bettencourt
SPORTKEUR: Genoeg gewag! Die Springbokke pak Saterdag die Wallabies op ’n tjokkeblok Loftus Versfeld in Pretoria.
➤ Albei spanne kyk klaar vorentoe na die Wêreldbeker. Eddie Jones van Australië en Rassie Erasmus en Jacques Nienaber van Suid-Afrika eksperimenteer met hulle spankeuses, was wys die verkorte weergawe van die Rugby-Kampioenskap is nie heel bo aan hulle agenda nie.
In die kompetisie se ander kragmeting is Nieu-Seeland die volslae gunsteling, maar dit sal ’n groot fout wees om Argentinië en hulle afrigter, Michael Cheika, te onderskat. Ian Foster, die All Blacks se breier, het sover onbeholpe gelyk op hierdie vlak.
Albei wedstryde is regstreeks Op DStv kanaal 201: Die Springbokke teen die Wallabies om 5 nm, en die Pumas teen die All Blacks vier ure later.
➤ Die onder-20 Wêreldbeker is in die pylvak. Albei wedstryde in die halfeindronde vind Sondag plaas. Die junior Bokkies was op hulle beste in die laaste 20 minute van hulle wedstryd teen Argentinië, en sal daardie spelpyl 80 minute lank moet volhou as hulle Ierland wil verras.
Frankryk, skitterend op dreef en onoorwonne, behoort Engeland uit die pad te vee.
SA teen Ierland is om 4.30 nm regstreeks op DStv kanaal 211 te sien, en Frankryk teen Engeland om 6.50.
➤ Kykers wat hulle aksie growwer verkies, sal inskakel op die UFC se skop-, gryp- en foeterfees waarin Dricus du Plessis die Kiwi Robert Whittaker pak.
Die wenner slaan letterlik ’n middelgewig-titelgeveg teen Israel Adesanya los.
Suid-Afrikaanse kyker sal Saterdag vroeg moet inkruip en hulle wekkers vir Sondag 4 vm stel. Die geveg vind in Las Vegas plaas, en is regstreeks op kanaal 210.
In die foto hierbo: Die Springbokke op die oefenveld
Fotobron: Springbokke