Babsy Mlangeni mag oud wees maar sy klanke is nog lank nie koud nie

Deur Doreen Mokgolo

Die legendariese mbhaqanga-musikant Babsy Mlangeni glo hy het nog genoeg musiek in sy lyf om mense van alle ouderdomme te vermaak.

Die 80-jarige musikant het sy jongste enkelsnit, “Kumnandi”, vrygestel. Dit is vervaardig deur die gevierde kwaito-musikant Joe Nina.

In ‘n poging om vandag se klanke vas te vang, is die liedjie ‘n samesmelting van amapiano- en kwaito-ritmes.

In ‘n eksklusiewe onderhoud met Scrolla.Africa het die “Sala Emma”-treffermaker gesê hy sal eers ophou sing as hy ses voet onder die grond is.

Hy het laat verlede jaar aan die enkelsnit begin werk, maar het besluit om Nina te vra om ‘n bietjie vibes by die produksie te voeg.

“Elke musikant moet sy handelsmerk vars hou om relevant te bly vir die nuwe generasie.

“Ek het twee weergawes van die liedjie vrygestel, ‘n onopgesmukte een waarby my ou bewonderaars sal aanklank vind en ‘n gemengde weergawe met ‘n klaviermaat vir jonger aanhangers,” het hy gesê.

Die bekroonde kunstenaar het bygevoeg dat hy ‘n album beplan in die nabye toekoms.

“Op die oomblik is ek huiwerig aangesien musiek nie verkoop soos in die verlede nie, met vandag se ekonomie in ag genome.

“Ek sal sien hoe die enkelsnit en EP presteer en dit vandaar af vat,” het hy gesê.

Mlangeni se groot deurbraak was in 1968 toe hy “Sala Emma” vrygestel het – ‘n  deuntjie wat deur mense van alle ouderdomme en kulture geniet is.

Alhoewel die kitaarspeler en komponis ook al by besigheid betrokke was, sê hy musiek is sy eerste liefde.

Hy bestyg steeds verskeie verhoë tydens verkillende geleenthede en hou sy aanhangers op hul voete.

“Ek is nog sterk en fiks. Daar is niks wat my gaan keer nie behalwe die dood en selfs wanneer dit uiteindelik gebeur sal dit my op die verhoog vind, aan’t doen waarvoor ek lief is,” het hy gesê.

Op die foto hierbo: Babsy Mlageni 

Fotobron: Verskaf