Nou of nooit vir Engeland

Deur Razeen Gutta

Dit is maak of breek vir Engeland se krieketspan op Headingly van Donderdag af. Hulle loop 2-0 agter in die reeks van vyf toetse om Die As teen Australië, en staan op die rand van hulle eerste tuisnederlaag sedert 2001 in dié geskiedkundige tweestryd.

Australië, wat in 2015 laas ’n reeks teen Engeland verloor het, sal graag hulle taak so spoedig moontlik wil afhandel, maar hulle sal baie goed onthou wat Ben Stokes vier jaar gelede op dieselfde veld vermag het.

Stokes, nou kaptein, het van nêrens af die mat onder Australië se voete uitgepluk met ’n onoorwonne honderdtal en ’n sege met een paaltjie beklink in een van die onvergeetlikste toetse tot nog toe.

Stokes het dié week gesê hy sien uit na die “ongelooflike atmosfeer” wat hy by die veld verwag.

“Ek weet nie wat dit is omtrent Headingley nie, maar dinge gebeur eenvoudig hier,” het hy Woensdag by ’n perskonferensie gesê. “Ons as span het goeie herinneringe, en ek glo ons ondersteuners ook.

“Wanneer ons bo is, neem ons hulle saam, en wanneer dit minder goed gaan, is hulle daar vir ons. Die atmosfeer is altyd ongelooflik. Natuurlik is ons mikpunt om te wen en die reeks lewend te hou.”

Engeland het drie veranderinge aangekondig, vergeleke met laasweek se span. Jimmy Anderson maak plek vir Mark Wood, Moeen Ali keer terug ná ’n besering ten koste van Josh Tongue, en Chris Woakes vervang die beseerde Ollie Pope.

Die aksie begin om twaalfuur die middag en is regstreeks op SuperSport. 

In die foto hierbo: Ben Stokes op Headingley in 2019

Fotobron: @musama_96