Deur Dezzi Lennox
“Same old Aussies, cheating again,” het die skare op Lord’s gedreunsing nadat die Australiese paaltjiewagter, Alex Carey, Sondag vir Johnny Bairstow in die tweede toets om Die As uitgehardloop het – ‘n harde slag vir die tuisspan se kanse. (Die beslissing is later na “gestonk” verander).
Die skare was verkeerd. Die Aussies – en Marais Erasmus, die TV-skeidsregter, wat Bairstow uitgegee het – was reg.
Eers die harde wedstrydfeite: Australië het ‘n skrikwekkende aanslag van Engeland se kaptein, Ben Stokes, afgeweer en met 43 lopies gewen. Hulle loop nou 2-0 voor in die reeks van vyf toetse.
Terug by Bairstow: Hy het ‘n wipbal van Cameron Green ontduik en nonchalant teen die baanblad afgedrentel om geselsies met Stokes te maak.
Carey, bal is die hand, het die paaltjies omgegooi. Bairstow was buite die kolfkampie – en uit.
Engeland het verwag dat Australië die appèl terugtrek, aangesien Bairstow gedink het die bal is dood. Huh?
Dis nie hoe reëls werk nie. Die bal is dood wanneer albei spanne dit as sulks beskou, sê die boekie. Carey het duidelik nie, en sy werk gedoen. Bairstow was aan die slaap. Einde van die verhaal.
Dinge het daarna amper lelik geraak. Selfs die bedeesde lede van die Marylebone Cricket Club, wat Lord’s bedryf, het van hulle pienk gins opgekyk en die Aussies as skelms uitgekryt toe hulle met etenstyd by die lid-pawiljoen verbystap.
Daar was harde woorde tussen die spelers.
Hier kom die plusput: Dit het die ondier in Stokes wakker gemaak – een van die grootste lekkertes in wêreldkrieket. Met net die kolfstert vir geselskap het hy losgetrek met onder meer nege sesse en die Aussies laat sidder.
Sy 155 was een van die skouspelagtigste toetskolfbeurte van die laaste klompie jare. Wat ‘n jammerte dat dit deur ‘n oningeligte gesanik op die agtergrond geskuif is.
Toe hy uit is, nadat hy ‘n kortbal van Josh Hazelwood van die borand van die kolf tot in Carey se hande gehelp het, was die wedstryd vir alle praktiese doeleindes verby.
In die foto hierbo: Johnny Bairstow, amper wakker
Fotobron: Twitter